STILBAAI NUUS - Seagulls bly op die wenpad en hierdie keer moes Eagle Stars van Sedgefield dit ontgeld.
Die toeskouers is Saterdag, 2 Mei, beloon toe al drie Seagulls-spanne as wenners van die veld gestap het.
Die C-span het met 10 - 5 gewen nadat hulle rustyd 5 - 0 agter was. Die feit dat sommige Eersteliga-klubs nie drie spanne in die veld kan stoot nie het 'n negatiewe effek op die C-span se wedstrydfiksheid. SWD Rugby sal beslis hul reëls in dié verband strenger moet toepas. Vir Seagulls se C-span het Morné Francis (flank) en Ashrico du Preez (haker), 'n drie elk gedruk.
Seagulls se B-span het met 17 - 8 geseëvier nadat hulle teen rustyd 'n skrale 10 - 8 voorsprong gehad het.
Die woelige binnesenter,Teswil Rhoda, het twee keer vir Seagulls gaan druk, terwyl die heelagter, Angelo Saayman, twee doelskoppe en 'n strafskop oorgeklits het.
In die hoofwedstryd het Eagle Stars se kragtige skrum, veral in die eerste helfte, vir Seagulls behoorlik laat sweet en hulle was dan ook welverdiend met 17 - 13 voor met die omdraaislag. Die tweede helfte het egter aan Seagulls behoort en toe hulle eers 'n teenvoeter vir die opponente se sterk skrumwerk kry het die agterlyn behoorlik baljaar om uiteindelik met 38 - 29 te wen.
Vir Seagulls het Joswin Esau (slot) twee drieë gedruk, terwyl plaasvervangers Rejovaan Fortuin, Devin Kleinhans en Ashwin Botha elk ook gaan druk het. Curnall Sollmans het 'n doelskop en twee strafskoppe bygedra, terwyl Botha ook 'n strafskop en doelskop deur die pale gejaag het.
Seagulls se volgende wedstryd is Saterdag, 16 Mei, teen George in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’