Grahame Bobrow (Raakrugby-toernooi organiseerder), was in gesprek met die Hessequa munisipaliteit, Stilbaai toerisme, die Stilbaai Sakekamer en ander rolspelers betrokke by die toernooi.
Bobrow is sedert 2001 betrokke by die jaarlikse Stilbaai Raakrugby-toernooi, asook die hele Raakrugby-toernooi wat elke Desember al langs die Wes-Kaapse kus plaasvind, met Stilbaai as deel van die program. Stilbaai Raakrugby is deel van Stilbaai se geskiedenis en vind die gewilde toernooi reeds die afgelope 33 jaar plaas op Stilbaai.
Die aanvanklike kompetisie wat in 1979 amptelik plaasgevind het tussen Stilbaai-Oos en Stilbaai-Wes was die breinkind van rugby geesdriftiges en plaaslike vakansiegangers, Nico de Boa, Dirk Hanekom en Tokkie van der Merwe. Sedertdien vind Stilbaai 'Touchies' plaas met rekordgetalle in besoekers asook spanne wat deelgeneem het in 1996- daardie jaar het 120 spanne mekaar die stryd aangesê.
In 2011 het getalle ietwat verminder, heel waarskynlik weens ekonomiese redes, maar het die rolspelers besluit dat dit belangrik is om Stilbaai 'Touchies' weer dié gebeurtenis op die jaarlikse sportkalender te maak. Die Stilbaai Sakekamer wat verteenwoordig is deur Dries de Beer en Martin Lowis het beklemtoon dat die toernooi 'n belangrike ekonomiese voordeel inhou vir die plaaslike sakegemeenskap.
Die Sakekamer het ook beklemtoon dat die Raakrugby-toernooi aangemoedig moet word as 'n familie-gebeurtenis en dat plaaslike inwoners, en veral sakepersone meer betrokke moet raak by die toernooi as toerisme gebeurtenis.
Die Stilbaai Sakekamer en Stilbaai Toerisme sal in noue samewerking met Bobrow, verseker hierdie jaar se toernooi is weer, soos in die verlede, die hoogtepunt op die Desember-kalender.
Munisipale kommentaar:
Die Hessequa munisipaliteit het aan Suid-Kaap FORUM genoem dat die jaarlikse "Touch Rugby" of "Touchies" reeds vir meer as 32 jaar 'n instelling is op Stilbaai en bly die toernooi steeds een van die grootste geleenthede om besigheid, ekonomiese ontwikkeling en toerisme te bevorder. Hessequa het die versoek van Sportman Group op Companies om die toernooi op 26 Desember hierdie jaar aan te bied goedgekeur. Hessequa sal weer verantwoordelik wees vir die verwydering van vullis asook regulering van verkeer.
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, raadslid Nel noem "Die Hessequa Munisipaliteit ondersteun hierdie en alle geleenthede wat Stilbaai en Hessequa positiewe blootstelling en toerisme geleenthede bied. Sport is ook 'n samebindende faktor en bied 'n geleentheid vir ons mense om hulself te geniet en verhoudinge te bou. Daar is natuurlik ook die ekonomiese inspuiting, met baie spelers en toeskouers wat Stilbaai besoek en in vele vorme bydra tot spandering in die gebied".
Die tender vir Julie-se-baai is vir twee seisoene, (2011/2012) toegeken en sal mnr. Barry Koen dus weer die kampterrein behartig tydens die 2012 vakansie-seisoen. Hessequa vertrou verder dat die toernooi weer sy plek sal inneem as die grootste en beste Raakrugby-toernooi op die kalender en beoog Hessequa ook om weer, soos vorige jare hulle volle samewerking te gee aan die organiseerders.

Rolspelers tydens die Stilbaai Raakrugby bosberaad wat Vrydag in Stilbaai gehou is. Van links staan Kobus Geldenhuys (Stilbaai Sakekamer), Dries de Beer (Stilbaai Sakekamer), Grahame Bobrow (Sportman Group op Companies ), Wium Kitchoff (Stilbaai Toerisme) en Arrie Greeff (Stilbaai Sakekamer). Foto: Louise Mouton.