HESSEQUA NUUS - Die vier plaaslike klubspanne uit Hessequa wat Saterdag in halfeindstryd-kragmetings betrokke is, vind hulle by 'n kruispad: 'n oorwinning is hul kaartjie na 'n eindstryd en moontlike bekerglorie, maar met 'n nederlaag kan jy maar ikabod oor die res van die seisoen skryf. Klaarpraat, neusie verby.
Daar is geen ander uitkoms nie. Dit behoort genoeg aanmoediging te wees vir Heidelberg, Riversdal Blues, Albertinia Rangers en natuurlik Seagulls om hul teenstanders om te klits - al is dit ook met 'n enkele punt.
Of dit nou met mooi rugby gaan wees of 'n onaanskoulike vertoning met vervelige aksie maak nie saak nie. 'n Wen is al wat gaan tel.
Heidelberg, wat in die SWD se Superliga A meeding, moet na Outeniquapark in George reis waar hy Progress gaan aandurf.
Op sy tuisveld is Heidelberg feitlik onoorwinbaar, soos menige sterk spanne in dié taai liga dit aan eie bas al gevoel het. En om dan die fanatiese Heidelberg-toeskouers daar te trotseer, is amper vreesaanjaend. Dis soos om 'n oorlog met 'n windbuks aan te durf.
Outeniquapark is nie een se tuisveld nie, hoewel Progress waarskynlik sal reken dis naby genoeg aan hul Rosemoor-stadion. Kyk mens na Heidelberg se vertoning vanjaar, sal hy tog as die gunsteling opdraf. As dié bulspan eers vlamvat, gaan hy moeilik gestuit word.
Die derby tussen Albertinia Rangers en Seagulls kan nogal 'n oorloggie in die kleine ontketen. Dis twee spanne wat redelik goed teen mekaar opweeg hoewel mens tog die gevoel gekry het dat Seagulls die meer afgeronde span in die kompetisie is. Maar 'n halfeindstryd is 'n ander storie en Albertinia het die voordeel van sy tuisveld en -skare. Maar pasop vir Melkhoutfontein se bestes. Hulle kan op enige gegewe dag enige span in die Super B-liga platloop.
Riversdal Blues het waarskynlik die grootste uitdaging, want hy moet na Oudtshoorn reis om die All Blacks in hul agterplaas te pak.
Dis self 'n riller, amper so erg soos 'n uitstappie na Heidelberg toe waar rooitapytbehandeling nie juis gegee word nie.
Die Blues het in die laaste paar wedstryde 'n opwaartse kurwe in hul spelpeil getoon en veral as 'n span goed begin saamspeel. Daar is ook 'n paar spelbrekers in die span wat in 'n druksituasie die wa deur 'n diep drif kan trek. Dink maar aan die losskakel, Wilbur January, en sy giftige skopvoet. En sy enigmatiese en besielende kaptein, Jaco Arendse, wat amper nooit 'n voet verkeerd kan sit nie.
Maar, laat dit weer verklaar word: in 'n halfeindstryd is enigiets moontlik. Verbroude kanse, swak dissipline en verkeerde besluite kan jou lelik kelder. Nou's dit tyd vir koelkoppe, en 80 minute se volle konsentrasie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'