Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Al drie George-rugbyklub se spanne moes Saterdag 3 Augustus die knie teen Heidelberg se spanne buig toe laasgenoemde hul eersteronde sege in hul wegwedstryd herhaal het.
Heibi se A-span draf van die veld met die telling op die telbord op 46-36 nadat hulle rustyd met 25-15 voorgeloop het.
Met die oorwinning beklee hulle steeds die vierde plek op die SWDRU Premierliga met 65 punte na 17 wedstryde. Dit plaas meer druk op die drie voorlopers, Evergreens, Crusaders en Progress, om nie punte in die laaste vyf wedstryde af te staan nie omdat die twee topspanne tuisvoordeel in die halfeindronde sal geniet.
In teenstelling met hul vorige wedstryde, het Heibi ietwat gesloer om aan die gang te kom, maar kort voor lank het hulle meer selfvertroue gekry en het hulle met hul kenmerkende swier hul teenstanders aan flarde gehardloop. Die besoekers druk ses drieë, waarvan Martin Hartnick twee druk, terwyl Junico Pieters, Lyndon Hartnick, Reagan Geldenhuys en Anrich Manho elk een drie druk. Eslin Naudt, losskakel, het met twee strafskoppe en een doelskop geslaag, terwyl Manho vier doelskoppe oor die pale stuur.
George se spanne se puntemakers was nie beskikbaar nie.
Heibi se derde span wen met 17-14 na hulle met 17-7 rustyd gedraai het. Dimitri Stevens, Ronald Salmon en Sedick Pieters druk elk een drie. Carlo Williams het een drie verdoel.
Die tweede span wen met 67-0 na hulle rustyd met 31-0 voorgeloop het.
Johannes Kleynhans (3), Rudolph Rossouw (2), Roger Williams, Jemiele September, Branville Human, Duanne du Plessis, Carlo Williams en Johnson Sithikutezi was die driedrukkers. September het met een doelskop geslaag, terwyl Daylin Manho vyf drieë verdoel het.
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi doen dit weer
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'