Update
HEIDELBERG NUUS - Dit was naelskraap of Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 8 Junie teen Groot-Brakrivier die onderspit gedelf.
Heibi het net-net met 12-9 in hul tuis SWDR-Premierligawedstryd deurgeskuur. Die besoekers het rustyd met 6-5 voorgeloop.
Die tuisspan het heelwat kanse verbrou en was waarskynlik té gerus, veral na hul oorwinning die vorige week oor die ligavoorlopers, Evergreens.
Simon du Toit het die eerste van sy span se twee drieë na 'n lynstaan in die 19de minuut gedruk, maar Corbin Swartbooi het met die doelskop uit die hoek gefaal. Die besoekers het met twee strafskoppe deur Roshwin Abrahams die voortou voor rustyd geneem.
Spel het in die tweede helfte van doellyn tot doellyn gewissel soos beide spanne verwoed aangeval en verdedig het. Marcel Marais het in die 42ste minuut vir Heibi se laaste drie oorgegaan nadat sy agtal druk op die besoekers se doellyn volgehou het. Swartbooi het die nodige twee punte bygevoeg. Abrahams het sy span se laaste punte in die 64ste minuut met 'n strafskop behaal.
Die wedstryd was die laaste van die eerste ronde en beklee Heibi die vierde plek met 40 punte na 11 wedstryde. Evergreens is voor met 44 punte na 11, gevolg deur Crusaders met 43 na 10 en Progress met 41 punte na 10 wedstryde.
Heidelberg se tweede span het met 10-7 verloor nadat hulle rustyd met 7-3 voor was. Vir Heibi het Christopher Chaka sy span se enigste drie gedruk, wat deur Alvin Swanepoel verdoel is. Heibi se C-span het met 24-17 gewen nadat hulle rustyd met 12-7 agter was. Die tuisspan se driedrukkers was Carlo Williams (2) en Herschelle Pieters (1). Williams het met een straf- en drie doelskoppe geslaag.
Lees 'n vorige artikel hier: Naelskraap-oorwinning vir Heibi
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'