Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Johan Fourie van Stilbaai is die algehele wenner van Baleia Wyne se vierde bergfietsren en veldwedloop wat Saterdag 28 September plaasgevind het.
Die geleentheid, waarvan Suid-Kaap Forum weer mediaborg was, het by die gewilde landmerk langs die N2 plaasgevind.
Meer as 150 deelnemers van wisselende ouderdomme het aan die 60 km, 40 km en 25 km-bergfietsrenne en 5 km en 15 km-veldwedlope deelgeneem.
Die fietsrenne het by Hoër Landbouskool Oakdale begin en by Baleia klaargemaak, terwyl die veldwedlope by die kelder begin en geëindig het. Deelnemers, baie van hulle vakansiegangers van oor die land, het ingeskryf.
Die weer het saamgespeel en hoewel reën voorspel is, het 'n paar druppels net nou en dan uitgesak om moeë deelnemers te lawe.
By Baleia het 'n feestelike atmosfeer geheers met onder meer 'n pannekoek-stalletjie wat deur Droom-versorging-sentrum se twee tehuise vir bejaardes behartig is. Caledon FM het deurgaans vir vrolike musiek gesorg.
Juan Botes se Chain Gang Events het die geleentheid vir die eerste keer aangebied. Ten spyte van sorgvuldige beplanning het talle deelnemers die roetes byster geraak en 'n korter of langer afstand afgelê. "Mense wat langs die roete die wedren dopgehou het, het dit baie amusant gevind om die rigtingwysers in die verkeerde rigting te draai," het Anton Verhagen, wat aan die 40 km-MTB deelgeneem het, gesê.
Op die 60 km-roete het 'n boer 'n boomstomp wat oornag omgewaai het, opgesaage n 'n hek wat oop moes wees, toegemaak, wat alles tot verdere verwarring gelei het.
Uiteindelik het almal darem hul pad terug na die eindpunt by Baleia gevind.
Kyk 'n video hieronder:
Uitslae
60 km MTB
Mans: 1. Johan Fourie, 2. Lemar Meyer,
3. Henri Meyer.
Vroue: 1. Talitha van Zyl.
40 km MTB
Mans: 1. Pieter Jansen van Rensburg,
2. Simon van der Pol, 3. Zander Groene-wald.
Vroue: 1. Sandra van Jaarsveld, 2. Erika Grotepass.
25 km MTB
Mans: 1. Quintes Muller, 2. Rude Muller, 3. Rossouw Gericke. Vroue: 1. Wendy Wilson, 2. Natasha Matthee, 3. Lorraine Verhagen.
15 km-veldloop
Mans: 1. Leon Adams, 2. Eugene Marais, 3. Benjamin Wright. Vroue: 1. Marilize Cilliers, 2. Benita Joubert, 3. Elise Kloppers.
5 km-veldloop
Mans: Zevian Louw, 2. Gershwin Fielies, 3. Luciano Stuurman. Vroue: 1. Anine Oosthuizen, 2. Natalie Jooste, 3. Annelie Kruger.
By die wegspring van die 25 km MTB was daar eers so 'n bietjie van 'n 'opeenhoping'...
Van links: Eminje Watt, Migael Louw, Anne-Mae Louw en Abigail Louw
Lees 'n vorige artikel hier: Baleia wyne toets rigtinghou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'