Update
HESSEQUA SPORTNUUS - Twee spanne van Albertinia het na die halfeindronde van die potspelliga deurgedring na afloop van die naweek se wedstryde.
Black Balls het Sondag, 21 November in 'n tuiswedstryd met Shooting Stars van Riversdal afgereken. Hulle wen die wedstryd gemaklik met 19-9.
Die Albertinianers het geen genade getoon nie en van die begin af die krane oopgedraai. Die C-span wen hul opponente gemaklik met 9-3 en die B-span wen met 7-5. Daarna het die A-spanne mekaar die stryd aangesê en het Black Balls net verder sout in die besoekers wonde ingevryf deur hulle oortuigend met 3-1 te wen,
Down Town se kanse om die wedstryd teen Skarrel Kids van Heidelberg te wen was tot aan die einde in die weegskaal. Down Town se spelers het gelukkig kop gehou en hulle teken die wenpunte eindelik in die laaste minuut van wedstryd aan. Hulle wen met 19-16.
V-dub het teen Q-Lovers van Heidelberg vasgeval en kon dus nie na die halfeindronde deurdring nie. Hulle verloor met 6-19.
Die halfeindronde vind Sondag, 28 November plaas. Die wedstryde word op Riversdal by die sportgronde beslis. Black Balls kom teen Khulas van Riversdal te staan en Down Town teen Q-Lovers van Heidelberg. Khulas het Legend Killers met 19-10 gewen.
Covid-19-regulasies sal toegepas word.
Vorige artikel: Potspelliga nader halfeindronde
Black Balls van Albertinia juig na hulle oorwinning teen Shooting Stars.
Die span van Down Town van Albertinia. Foto: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'