Gallery
RIVERSDAL NUUS - Die pas afgelope Baleia Wines-bergfietsren het vanjaar 'n paar uitsonderlike inskrywings gehad.
Een vanuit Addis Ababa, die ander 'n jongman van die dorp wat dieselfde middag in die huwelik getree het!
Daar was in totaal so 85 fietsryers en 59 veldwedloopdeelnemers.
Dit is nie seker of Louis Aucamp aan die 11,1 km-verldwedloop deelgeneem het om fiks te bly ingeval dit nodig is om van sy aanstaande van Ladismith, Shani Hough, weg te hardloop nie, maar volgens hom was hy baie opgewonde en het hy baie na sy huwelik uitgesien.
Vissilis Kiriakis van Addis Ababa het al die pad van Ethiopië gekom om deel te neem - en darem ook sy vriendskap met Abraham de Klerk, die kelders se wynmaker, te versterk.
Dit was ook die geval met baie ander fietsryers wat mekaar 'n jaar gelede op dié byeenkoms laas gesien het en oral is drukkies uitgedeel en nuusbrokkies uitgeruil.
Die organiseerders was dit eens dat dit 'n sukses was en die belangrikste, dat dit lyk of almal dit geniet het, al was dit vir sommige moeiliker as vir ander.
Hanko Geldenhuys en Benjamin Meyer (beide 9 jaar), asook Jannes Snyman (10) was die jongste ryers wat in die 20 km deelgeneem en klaargemaak het.
Jac Saayman lyk lus vir die 88 km-afstand kort nadat hulle by die kelders weggespring het.
Uitslae (eerste drie plekke)
Mans
20 km: 1. Harry du Plooy; 2. Hanru Brits; 3. Morné Pretorius. 40 km - 1. Dawie du Plooy; 2. Gideon van Tonder; 3. Jan-Hendrik Joubert. 88 km - 1. Jonty Adams; 2. Jacobus Basson; 3. Markus Pratz. Trial run - 1. Danie Geldenhuys; 2. Garth Hume; 3. Philipus du Toit.
Dames
20 km: 1. Verona Pieterse; 2. Loraine Brits; 3. Surita Hills. 40 km - 1. Suzette du Plessis; 2. Rhona van Heerden; 3. Susan Botha.
88 km: 1. Marilize Cilliers; 2. Bernice Bester; 3. Adrie van der Westhuizen.
Veldwedloop: 1. Didi Roos; 2. Lodelia Odendaal; 3. Teresa Bester.
Interessant om te noem is dat die veldwedloop se mans- en dameswenner se tye baie na aan mekaar was. Geldenhuys het in 'n tyd van 53:05 klaargemaak, terwyl Roos, wat oorspronklik van Riversdal is, dit kort daarna in 'n tyd van 53:52 voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'