Update
ALBERTINIA GHOLF NUUS - Die dorp se eerste nag-gholftoernooi het op Vrydagaand 1 November plaasgevind.
Die geleentheid wat deur Odendaal Koen gereël is, het 32 spelers gelok.
Koen het gesorg vir die nodige koplampies, nagbrille en spesiale balletjies. Die balletjies skyn net vir 'n kort rukkie na dit aangeraak is. Die tradisionele Afrikaanse benaming vir gholf, 'slaan-en-soek', is nie op nag-gholf van toepasssing nie, want daar is beslis nie tyd om te soek nie.
Bertus Human het die afslaan met 'n sweepklap op die derde bof aangekondig, waarna al die deelnemers gelyktydig afgeslaan het.
Dit het gelyk soos 'n klomp UFO's wat oor die gholfbaan vlieg soos die gloeiende balle deur die lug getrek het.
Die formaat was beurtspel (twee spelers wat een bal gebruik en om die beurt speel) en almal was wenners. Elke deelnemer het 'n bottel wyn geskenk deur die toernooiborg, Jakkalsvlei, ontvang. Daarna is aan biefstuk vir aandete gesmul.
Die jaarlikse Sand Classic sal op 30 November by die klub plaasvind.
Die son sak en die deelnemers staan gereed om af te slaan. Foto: Jeff Gibson, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Albertinia maak kennis met nag-gholf
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'