NASIONALE NUUS - Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom kampus) is 150 jaar gelede gestig.
Dié mylpaal sal op 30 November op Potchefstroom gevier word.
Die alumni-reëlingskomitee nooi ou Pukke, jong Pukke, NWU-Pukke, kortom alle oud-Pukke hartlik uit om die fees by te woon en lekker saam te kuier. Die dag se program sluit optredes deur bekende Puk-kunstenaars soos Johan van Rensburg (van Noot vir Noot-faam), Danie Niehaus, Anna Davel en die Bourbons Broers, Ghapi en ander kunstenaars in. Sing-songs en toesprake deur die President van Tarentaal ('n humoristiese ou Puk-tradisie) asook kort toesprake deur enkele oud-kanseliers en vise-rektore vorm deel van die oggendprogram. 'n Aansitete is beskikbaar vir die wat belangstel. Die middag is meer informeel met kosstalletjies, kunstenaars, 'n kontantkroeg en baie kuiergeleenthede.
Plek is beperk en belangstellendes moet hul kaartjies betyds aanskaf. Volledige inligting oor die dag se program en die koste van kaartjies is op die webblad https://puk150.co.za/ beskikbaar.
Die e-posadres Puk150fees@gmail.com kan ook vir verdere inligting gekontak word.
Lees 'n vorige artikel hier: Puk vier 150ste bestaansjaar
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'