SUID-KAAP NUUS - Die onsekerheid wat met Covid-19 gepaardgaan raak twee geleenthede wat groot trekpleisters op die George-kalender is.
Die George Ou Motorskou wat op 8 en 9 Februarie sou plaasvind, is onbepaald uitgestel en 'n geleentheid op 27 Februarie wat beplan is om as 'n voorloper vir die Outeniqua Chair Challenge (OCC) op 22 Oktober te dien, is in die weegskaal.
Dit sou die 25ste George Ou Motorskou gewees het. Die skou lok elke jaar duisende deelnemers en besoekers van regoor Suid-Afrika en selfs die buiteland. Dit is nie bekend of dit nog wel vanjaar sal plaasvind nie.
Mimi Finestone, mediabeampte van die George Ou Motorskou, het bevestig dat die geleentheid "uitgestel" is. Sy het gesê 'n verklaring sal aanstaande week uitgereik word.
Sy sê die organiseerders is versigtig weens al die gebeure rondom Kovid-19 en die beperkinge op getalle van mense. "Die veiligheid van die deelnemers en die publiek is altyd eerste prioriteit."
Alewijn Dippenaar, organiseerder van die OCC, het gesê geen finale besluit is nog geneem oor die geleentheid op 27 Februarie nie.
Dit word beskou as 'n soort "mini-OCC" wat op die Tuinroete sou fokus, hoewel atlete van ander provinsies ook welkom is. Die organiseerders wil bewustheid skep van mense in rolstoele en die plan is om wedrenne van 3, 5, 10 en 21 kilometer te hou.
Die munisipalitet het verlede jaar reeds hul steun aan die geleentheid toegesê en R50 000 beskikbaar gestel.
Dippenaar het Maandag gesê voorlopig word na 'n alternatiewe datum in Mei gekyk vir die Februarie-geleentheid.
Hy het benadruk dat die hoofgeleentheid in Oktober nog voortgaan.
Volgens Dippenaar wil die organiseerders graag hê die Februarie-geleentheid moet plaasvind. "Dit sal hoofsaaklik fokus op atlete in die Tuinroete."
Van die voertuie wat by die 2020 George Ou Motorskou uitgestal is.
Foto: Michelle Pienaar
Due to Covid-19, it is uncertain whether two major events in George, the George Old Car Show and a "mini" Outeniqua Chair Challenge (OCC), will take place in February as planned. The Old Car Show has been postponed indefinitely, but organisers still hold out hope for the Garden Route-oriented mini OCC.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'