TUINROETE NUUS - Philip Kuschke is aan die stuur van die 2022 Zesto Café Vet Toer, wat die voorloper is van twee dae se enjinplesier wanneer George-oumotorskou sy 25ste bestaansjaar op 12 en 13 Februarie te Eden Tegniese Hoërskool vier.
Die silwerjubileum geleentheid word weereens trots ondersteun deur Scribs Benzeum, en vanjaar se voorafgaande toer van veteraan- en klassieke motors is moontlik gemaak deur Zesto Café by Eden Meander.
Philip, tans sekretaris van die Model T Ford-klub van Suid-Afrika, kom 'n lang pad met hierdie merkwaardige Amerikaans-geboude motors. Nie net is hy 'n staatmaker op die Suid-Kaap-oumotorklub se reëlingskomitee nie, maar dié jaar is die 17de keer dat hy die veteraantoer organiseer.
"Daar is 'n tasbare gevoel van afwagting tussen ons. Een deelnemer van Kaapstad sê hy reël sy jaarlikse vakansie rondom die geleentheid. Enersyds beplan 'n Kanadese deelnemer die besoek aan sy Tuinroete-tuiste om spesifiek saam te val met die veteraantoer en oumotorskou."
Rosita Kuschke skuif dikwels agter hul 1915 Model T Ford se stuur in.
Veteraanmotors moet gebou wees voor 31 Desember 1918. Aangesien hierdie motors so skaars is soos hoendertande, maak die veteraantoer voorsiening vir modelle sonder voorremme, waarvan die vervaardiging rondom 1930 'n natuurlike dood gesterf het.
Die 2022 Zesto Café Vet Toer skop amptelik af op Donderdag 10 Februarie in Calitzdorp.
"Verskeie deelnemers maak ook die Crankhandle-klub se Kalkbaaitoer mee, wat op 6 Februarie begin. Ons vertrek dus Vrydag die 4de uit George en slaap in Bredasdorp voor ons Saterdag in die Moederstad aanland," vertel Philip.
"Nadat ons vertrek uit Kalkbaai, keer ons terug via Wellington en Franschhoek waar ons Dinsdag die oumotormuseum besoek, en dan 'n paar wynplase verken op pad Montagu en Calitzdorp toe."
"Ons geniet SKOMK-ondersteuning aangesien die toer baie ou modelle lok - 'n rariteit by skoue landwyd. Helfte van die motors wat vir vanjaar se toer ingeskryf het, is ware veterane, die oudste onder hulle 'n 1908 Model S Ford. Die eienaar/bestuurder is 'n dame, Ali van Jaarsveld, wat jaarliks vanaf Johannesburg reis om by die toer aan te sluit.
"Dis dus nie net vir ouens nie: baie eienaars word deur hul eggenote vergesel, en my vrou Rosita skuif dikwels agter ons 1915 Model T Ford se stuur in. Volg hulle op Facebook en koop jou toegangskaartjie deur Computicket.
Ali van Jaarsveld reis jaarliks vanaf Johannesburg om by die toer aan te sluit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'