TUINROETE | KAROO NUUS - Veteraanmotors, ou trekkers en verskeie ander voertuie, gaan weer aanstaande jaar in George te sien wees by die George-oumotorskou.
Dit sou vanjaar op 8 en 9 Februarie plaasvind, maar is onbepaald uitgestel as gevolg van die onsekerheid wat met Covid-19 gepaardgaan. Dit sou die 25ste George-oumotorskou gewees het.
Die George-oumotorskou word beskou as een van die groot trekpleisters op die George-kalender. Dit lok elke keer duisende plaaslike mense en ook besoekers van ander dele van die land. Dit word ook gesien as 'n geleentheid wat die plaaslike ekonomie help.
Alewijn Dippenaar, nuwe voorsitter van die skoukomitee, het gesê dit sal weer onder die vaandel van die Suid-Kaap Oumotorklub plaasvind. Die plan is om dit op 12 en 13 Februarie by Hoër Tegniese Skool Eden (HTS Eden) te hou.
Dippenaar het gesê hy sien uit na die nuwe uitdaging. Hy wil sien dat die dinamika van die ou motors sterker bemark word.
"Die skou is 'n vlagskipprojek van George en dit lok besoekers oor 'n breë spektrum."
Beplanning is nog in 'n vroeë stadium, maar die plan is om elemente na die skou te bring wat waarde vir besoekers bring.
Daar sal onder meer gekyk word hoe besoekers meer interaktief betrokke kan wees by die skou. Dit is nie net George wat voordeel trek nie, maar die hele streek.
Inskrywings vir die skou sal later vanjaar open en meer inligting sal in 'n later stadium bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'