Update
STILBAAI NUUS - 'n Afgetrede dominee en sy seun is klaarblyklik in 'n bedrogskandaal betrokke, wat aan die lig gekom het toe die seun op 8 Februarie gearresteer is.
Lt. kol. JJ Tiemie van Laingsburg-polisie het bevestig dat 'n saak van bedrog tans ondersoek word teen Willem en sy seun, Johannes Jacobs.
Willem, wat 'n afgetrede predikant van Riversdal is, het homself op 12 Februarie oorgegee.
Weens siekte kon hy nie gearresteer en aangehou word nie.
Volgens Tiemie wou hulle 'n plaas in die Laingsburg-distrik vir R31 000 000 koop en wou dié transaksie moontlik deurhaak met 'n vervalste bank gewaarborgde dokument.
Die stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, kapt. Johan van Tonder het aan Suid-Kaap Forum gesê dat dit deel van Jacobs sr. se borgvoorwaardes is dat hy by dié polisiestasie moet aanmeld, omdat hulle op Stilbaai bly.
Willem is op R5 000 borg vrygelaat, terwyl Johannes steeds in aanhouding is.
Albei het op 28 Februarie in Laingsburg-landroshof verskyn, waar Johannes op formele borgtog sou aansoek doen.
Die volgende hofdatum was teen druktyd nog nie bekend nie.
Op hellopeter.com, 'n webtuiste waar mense hul misnoë oor besighede en dienslewering kan uitspreek, is 'n lys van klagtes teenoor die Jacobse en ander persone wat moontlik ook hierby betrokke is.
Die koerant het die afgelope week verskeie oproepe ontvang van mense wat beweer dat hulle weens die Jacobse ingedoen is, waaronder 'n bejaarde vrou.
Lees 'n vorige artikel: Pa uit op borg, seun steeds in aanhouding
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'