RIVERSDAL NUUS - Doreen Weber (73) is 'n sprankelende en liefdevolle inwoner van Riversdal wat 'n pragtige tuin by haar huis in Van Riebeeckstraat het.
Doreen werk elke dag in haar tuin, 'n takie wat sy geniet. Sy het 'n groot verskeidenheid blomme in dié pragtuin, maar sy plant ook groente tussen-in wat sy aan haar bure en mense wat swaarkry uitdeel.
Dié besonderse vrou is op Riversdal gebore, het hier skoolgegaan en gewerk. Op skool was sy 'n kranige sportvrou wat onder andere netbal, tennis en selfs karate gedoen het.
'n Rugoperasie redelik onlangs het veroorsaak dat sy nie meer harde tuinwerk kan doen nie, maar sy skeep nie haar tuin af nie
"Volgens my dokter het my rugoperasie gou herstel omdat ek so fiks en gesond lewe," vertel sy.
'n Gedeelte van die pragtige tuin.
Sedertdien help Pieter Heneke haar met die harde werk, wat sy vir hom uitwys en sy trek die onkruid uit.
"Dit is nou tyd om bolle te plant, swaardlelies," sê Doreen vir Pieter.
Op haar "te doen"-lysie wil sy eendag nog na die blomme naby die Paarl gaan kyk, omdat sy lief vir die natuur en plante is.
Doreen stap elke oggend as dit nie te koud is nie. "Ek stap 6km elke oggend; 3km op en 3km af."
Doreen Weber is 'n ywerige tuinier.
Harde werk en baie liefde laat 'n tuin floreer. Foto's: Henry Snyman
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'