STILBAAI NUUS - Roodt Cronjé, 'n bekende in die Stilbaai-gemeenskap is Woensdag 25 April, minder as 'n maand na sy 77ste verjaarsdag op 29 Maart, skielik aan 'n hartaanval op sy plaas langs die rivier oorlede.
Roodt is op dié plaas gebore en bly sedert 1970 hier saam met sy familie wat een van die oudste families hier is. Hy het diep spore getrap en is bekend vir sy betrokkenheid by die visvywers. Hy was ook aktief betrokke by die instandhouding daarvan.
Hy was onder andere ook vir jare die distrik se ongedierte-jagter terwyl hy en sy vrou, Marie, ook vir jare op die handsentrale gewerk het. Hy het gedurende die Desember-vakansies groente by die bekende 'Boomkafee' by die groot melkhoutboom langs Hoofweg-Wes verkoop.
Buiten sy vrou, laat Roodt drie kinders en vyf kleinkinders agter.
Die begrafnis vind Vrydag 4 Mei by die NG Kerk in Stilbaai-Wes plaas.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'