Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit se visie is om op datum te bly met die vooruitgang in tegnologie, maar word gekniehalter deur die beskikbaarheid van infrastruktuur in landelike gebiede.
Dit is volgens Susan Geldenhuys, mediawoordvoerder van die munisipaliteit. Sy noem voorts dat die munisipaliteit verskeie gesofistikeerde stelsels het wat probleme tot gevolg kan hê.
"Toegang tot verskeie diensverskaffers en die huidige gebrek aan noodsaaklike kommunikasie-infrastruktuur in landelike gemeenskappe is 'n realiteit.
"Die munisipaliteit besef dat kommunikasiestelsels 'n noodsaaklike vereiste by alle gemeenskappe binne Hessequa is.
"Die oplossing vir die veelsydige kommunikasiestelselprobleme vereis 'n geïntegreerde en holistiese benadering."
Die munisipaliteit is tans besig om inligting en noodsaaklike tegniese ondersteuning in te win en gee deurlopend dringend aandag daaraan om die struikelblokke van kommunikasie-infrastruktuur uit die weg te ruim.
Tegnologie ontwikkel daagliks en is 'n uitdaging vir enige instansie.
Dit het byna altyd onvoorsiene gevolge en terwyl een situasie opgelos word, kan 'n ander, soms nie-verwante situasie opduik wat dienslewering kan beïnvloed.
Voorbeelde van ontwikkelende tegnologie is die telekommunikasiestelsel wat voorheen op 'n landlyn gewerk het, maar na 'n datalyn wat van internetkonnektiwiteit en bandwydte afhanklik is om te funksioneer geskuif het.
Geskrewe posstukke aan die munisipale bestuurder het verminder na byna 10 per dag, maar die elektroniese e-posse het vermeerder na bykans 300 e-posse per dag.
Lees 'n verwante artikel: Munisipaliteit wil kommunikasie verbeter
ARTIKEL: SAN-MARIÉ CRONJÉ, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'