STILBAAI NUUS - Stilbaai Kelders, dié wynboetiek met meer as 700 wyne, 'n groot verskeidenheid boetiekbier en -gin, asook al die ander gunstelinge, het op 1 November vyf jaar oud geword.
Dié besonderse winkel, geleë in die grasdakgebou met sy Kaaps-Hollandse voorkoms, is egter die oudste drankwinkel in Stilbaai en hoewel dit al verskeie name gehad het, word kliënte al vir 22 jaar hier bedien.
Die eienaars, Johannie Vermeulen en Adolf Botes, is reeds meer as drie jaar vennote en het Stilbaai Kelders tot 'n unieke besigheid omskep waar 'n wye verskeidenheid Suid-Afrikaans-vervaardigde wyne, meestal uit die Robertson-streek, asook die res van die Wes-Kaap, Weskus en Klein-Karoo beskikbaar is. Die wyne word eers gekeur voor dit op die rakke geplaas word. Die winkel is wyd bekend vir die kwaliteit en verskeidenheid wyne wat onder een dak beskikbaar is en voornemende kopers kom van heinde en ver om hul aankope hier te doen.
Behalwe vir ander spiritualieë is daar ook enkelmout-whiskey en potketelbrandewyne, terwyl die vonkelwynversameling iets vir elkeen se smaak bied.
Dit is vir Adolf en Johannie, wat albei die Cape Wine Academy-sertifikaatkursus suksesvol voltooi het, uiters belangrik om sover moontlik self hul kliënte te bedien, veral wat die aankope van wyn, boetiekbier en -gin betref, terwyl die Stilbaai Kelders-personeel ook opleiding van kenners ontvang om die produkte beter te ken.
Daar is ook 'n deli-afdeling met kase, asook olyfolies en -produkte wat die wyne komplimenteer. Geskenke kan ook hier aangekoop word terwyl die winkel ook glase verhuur. Gereelde wynproefunksies word aangebied en wynliefhebbers kan ook aan hul wynklub behoort.
Stilbaai Kelders het vroeër vanjaar die Prestige-toekenning as die wenner van die Stilbaai-sakekamer se medium-besigheid van die jaar ontvang.
Stilbaai Kelders is geleë in Voortrekkerstraat 17 of skakel hulle by 028 754 1655 of 082 337 6286 of 083 333 1810.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'