Die klagte spruit uit 'n protes demonstrasie oor salarisse wat Vrydag, 9 November plaasgevind het. Humeure het hoog geloop toe 33 werkers van R & S Tissue Culture Laboratories deur die plaaslike polisie gearresteer is. Die minderjarige meisie (17) is in haar ouers se sorg vrygelaat, terwyl die res van die stakers na die polisieselle geneem is om geprosesseer te word vir 'n hofverskyning.
Die werkers, wat deel uitmaak van 'n groep van 45 en waarvan net een 'n man is, staak al die afgelope drie weke vir 'n salarisverhoging. Die werkers eis 'n minimum van R2 800 per maand wat prestasiebonusse insluit. Huidiglik verdien die laagste besoldigde werker R1 300 per maand as hulle heeldag en elke dag sou werk. Sommige van die werkers sê dat hulle net halfdae werk, wat meebring dat hulle slegs R600 verdien. "Wie kan van dit lewe?" het hulle gevra.
Tydens Suid-Kaap FORUM se besoek aan die polisiestasie was die minderjarige meisie se ouers, Koos en Nita Saayman hoogs ontsteld omdat hul dogter toegesluit was omdat sy vir haar regte veg. "Dis mos hulle reg as werkers om te staak omdat die unie (Imbumbo Workers Union) die aksie ondersteun. Dis volgens die unie 'n wettige staking," het Saayman ontsteld gesê.
Benewens die unie verteenwoordiger, Clarence Mtyenele, was die werkers ook deur die ANC se Hessequa streekskoördineerder, Ivan Magaliso, sowel as familie, vriende en bure ondersteun. Van die werkers beweer dat die eienaar, Jean Roeleveld geen tyd vir hulle as werkers het nie, omdat hy in plaas van aan hul eise te voldoen hy eerder werkers van George af kry om daar te werk.
Polisie skakelbeampte, kapt. Malcolm Pojie het bevestig dat klagtes van intimidasie teen die werkers ondersoek is. Die klagtes is laatmiddag teen al die werkers teruggetrek. Een van die werkers, Ilke du Plessis, toesighouer, het na haar vrylating namens die ander gesê dat hulle nie gaan ophou staak voor daar nie aan hul eise voldoen word nie.
Roeleveld het weereens aangedui dat hy bereid is om 'n verhoging van 8% toe te staan, omdat die 74% wat sy werkers volgens hom eis buitensporig is en duidelik nie tred hou met die swak ekonomiese tye regoor die wêreld nie. Hy het bygevoeg dat indien die situasie nie gou ontlont word nie, hulle nie sal huiwer om die fabriek toe te maak en buiteland toe te gaan nie.
Mtyenele het Roeleveld se kommentaar oor die moontlike sluiting van die fabriek as bloot 'n dreigement afgemaak. "Hulle doen dit altyd om ons werkers sag te maak," het hy benadruk.

Stakende werkers van 'n plaaslike besigheid is in hegtenis geneem en het Dinsdag, 13 November in die landdroshof verskyn. Foto: Elize Blom.