HEIDELBERG NUUS - Daar word dringend na 10 gewapende swart mans gesoek nadat hulle 'n winkel in die Oos-Dorp, Heidelberg gisteraand, Donderdag 9 Desember beroof het.
Die rooftog het tussen 20:30 en 21:00 gebeur. Die winkel maak gewoonlik enige tyd vanaf 21:00 toe.
Volgens inligting het sewe mans blykbaar eers die winkel binnegekom en gevra of messe te koop is. Die twee vroulike assistente het vir hulle die messe gewys, waarna die mans die messe geneem en die twee vrouens, asook twee manlike werkers beveel het om op die vloer op hul mae te lê.
Die bestuurder het gelukkig die kans gehad om die polisie te ontbied voor hy vasgevat is en ook op die grond moes lê.
Nog drie gewapende mans het toe die winkel betree. Die werkers is van hul selfone beroof en hulle het ook met ‘n groot som kontant weggekom.
Enigiemand wat enige inligting in verband met die voorval kan verskaf, word gevra om dringend met Heidelberg-polisie (028 722 1910) of hul naaste polisiestasie in verbinding te tree. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
Die rowers moet onder geen omstandighede self gekonfronteer word nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'