RIVERSDAL NUUS - Jongmense in Riversdal word aangemoedig om deel te word van die Riversdal-polisie se Youth Desk en Junior Commissioners-programme, inisiatiewe wat daarop gemik is om jeugdiges te help ontwikkel tot verantwoordelike leiers en positiewe rolmodelle in hul gemeenskappe.
Die programme bied aan skoliere en ander jongmense die geleentheid om by gemeenskapsveiligheid, persoonlike ontwikkeling en lewensvaardighede betrokke te raak.
Deelnemers word by skole geïdentifiseer en kry die geleentheid om saam met buurtwagte en Community in Blue-projekte te werk, waar hulle waardevolle ervaring en mentorskap ontvang.
'n Inspirerende voorbeeld van die sukses van die programme is konst. Jayden Michaels.
Hy het hom in 2023 by die Youth Desk van Riversdal-polisie aangesluit en het die geleentheid gebruik om sy lewe in 'n positiewe rigting te stuur.
In 2024 het hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aansoek gedoen, is gekeur vir opleiding by Bishop Lavis en vandag dien hy as 'n konstabel by die Riversdal-polisie.
Volgens ao. Hans Busch en sers. Christiaan Jansen, mediaskakelbeampte van Riversdal-polisie, speel goeie rolmodelle en mentors 'n belangrike rol in die ontwikkeling van jongmense.
Hulle moedig die jeug aan om hulself te omring met mense wat hulle kan inspireer, ondersteun en motiveer om hul volle potensiaal te bereik.
Die beamptes beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om weg te bly van negatiewe invloede wat jongmense se toekoms kan benadeel.
"Jou omstandighede bepaal nie jou be-stemming nie.
Met die regte ondersteuning, harde werk en deursettingsvermoë kan elke jongmens 'n suksesverhaal word," is die boodskap wat die Riversdal-polisie aan die jeug van die dorp wil oordra.
Busch, Jansen en sers. Garnet Damans sê hul deur staan altyd oop vir jongmense wat uitdagings by die huis, skool of in die gemeenskap ervaar.
Hulle is bereid om leiding, ondersteuning en motivering te bied aan enige jeuglid wat hulp nodig het.
Belangstellendes wat meer wil weet oor die Youth Desk of Junior Commissioners-programme, kan Jansen by die Riversdal-polisie kontak.
Om betrokke te raak by buurtwagte en Community in Blue-projekte, kontak Busch by 082 522 2707 en Damans by 072 607 9283.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’