Die opkoms van inwoners vir dié soort belangrike terugvoering en insette deur hulle was baie swak.
Die burgemeester, me. Emor Nel was deur raadslede Julian Merkeur, onderburgemeester en Leon Fourie, speaker asook mnr. Johan Jacobs, munisipale bestuurder en ander senior amptenare vergesel.
'n Oorhoofse voorlegging is aan die ongeveer 30 aanwesiges voorgehou waarna hulle die geleentheid gegun is om vrae, kommentaar of insette aan die paneel te rig. Verskeie vrae veral oor die toekenning van huise van die nuwe behuisingskema, die situasie rondom die voormalige hoof van water, sanitasie en riool, mnr. Etienne Steyn, afdankings en aanstellings, viktimisering van amptenare asook optredes teen onwettige taxis is deur verskeie inwoners geopper.
Mnr. Sakkie Roberts, DA voorsitter, Heidelbergtak en taxi eienaar wou weet wanneer die warmwatersilinders (geysers) voorsien en geïnstalleer word. Hy het ook die raad gevra om sy versoek om die verrigtinge in die gemeenskapsaal te hou, te hersien omdat nie veel inwoners opgedaag het nie. Hy het die raad ook gevra om streng teen die ongeveer 13 onwettige taxis in dié dorp op te tree.
Me. Lisby Pieterse, voormalige ANC proporsionele raadslid wou weet hoekom daar nie kriminele klagtes teen mnr. Etienne Steyn ingestel is nie. Sy het gevra of daar kostes aan verbonde was met die onafhanklike ondersoek van Steyn se bedrywighede en of die advokaat wat aangestel is, dit gratis gedoen het om die raad kostes te bespaar. Sy wou ook weet of die afdankings, veral dié van die LED beamptes die raad kostes bespaar het. Wat die behuisingskwessie betref wou sy weet of daar inmenging van veral DA raadslede was.
Riaan Oktober wou weet of die afloskassiere as waghonde aangestel word. Vennito van Niekerk, ANC Jeugligavoorsitter wou weet hoekom sekere jongmense, jonger as homself voorkeur bo ouer mense kry met die toekenning van die nuwe huise. Verder wou hy weet hoekom kontrakteurs van buite aangestel was om die biblioteek se aanbouings te doen. Volgens hom word beamptes geviktimiseer deur sekere senior amptenare, sowel as raadslede.
Beide Nel en Jacobs het gevra dat inwoners nie moet huiwer om besonderhede van onwettige taxi eienaars deur te gee nie. Jacobs het benadruk dat daar vanaf 19 November verskerpte optredes in dié opsig sal wees. Hy het bevestig dat daar 'n kriminele saak teen Steyn aanhangig gemaak is. "Daar is geen goue handdruk gegee nie. Steyn is die normale vervroegde pensioen toegestaan," het hy gesê.
Volgens Jacobs is die LED-kwessie deur arbitrasie afgehandel. Hy het beklemtoon dat die die speaker baie streng is en dat daar geen inmenging van raadslede enigsins geduld word nie. Met verwysing na die tydelike werkers, het hy bevestig dat daar 'n databasis is wat gedurig geruil en streng toegepas word.
Mnr. Reggie Wesso het op navraag van die stratekwessie bevestig dat daar minimum vereistes is, maar dat die raad wel plaveisel voorsien. Hy het ook gesê dat die Diepkloofprojek 'n onlangse projek is. Met verwysing na die watermeterkwessie het hy verduidelik dat die erf/woning privaat en onderverdeeld is en dus nie die raad se verantwoordelikheid is om meters vir al die gesinne daar te voorsien nie.
Met betrekking tot die 'inmengery' van die behuisingswaglys het Onrust verduidelik dat die waglys geïntergreer is en dat hulle niks het om weg te steek nie. "Kom na my toe as julle enige probleme het," het hy die aanwesiges gevra. Wat die straatname vir die nuwe Diepkloof behuisingsprojek betref, het hy bevestig dat die name al deurgegee is en dat die raad hoop dat dit voor die einde November afgehandel sal word.
Volgens Onrust het die raad die tenderproses vir die biblioteek gevolg en was die kontrakteur wat aangestel was, die beste tenderaar. Hy het bevestig dat die projek twee weke agter was, maar dat die kontrak daarvoor voorsiening maak. Die bouwerk word na verwagting dié week afgegee en daarna behoort die afrondingswerk, wat die kabinetwerke insluit binne twee weke voltooi te word. Met verwysing na die voorsiening van die geysers het hy bevestig dat 31 van die 32 by Eskom ingedien is en dat hy daarop sal opvolg.
Me. Groenewald het met verwysing na die sluiting van die plaaslike toetsstasie, genoem dat daar vasgestel is dat dit nie finansieël haalbaar is om dié fasiliteit meer op die dorp te bedryf nie. Sy het gesê dat die toestelle teen hoë onkostes opgegradeer moet word en dat dit 'n groot risoko vir die raad is om die fasiliteit so te bedryf. "Ons moes dit staak, maar daar is darem nog tyd vir eienaars met klein voertuie om die fasiliteit te gebruik."
Ter afsluiting het mnr. Nollie Meyer, plaaslike boukontrakteur die raad, burgemeester en haar gevolg bedank vir hul tyd en toewyding om die publiek ingelig te hou oor hul doen en late met die uitvoering van hul verpligtinge.

Sakkie Roberts, DA takvoorsitter vra vir strenger optrede teen onwettige taxi operateurs.