HEIDELBERG NUUS - Die winskopie wat jy dalk kry wanneer iemand jou nader met 'n spotgoedkoop radio, televisie of enige ander item, mag dalk gesteel wees - en sou jy dit koop, maak jy jouself aan 'n misdaad skuldig.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder skep die kopers 'n mark vir misdadigers wat uit diefstal 'n inkomste maak.
"Kopers van gesteelde goedere maak dit maklik vir die diewe om daarvan ontslae te raak en daardeur word misdaad aangemoedig," waarsku sy.
Hendricks rig 'n ernstige pleidooi om hulle daarvan te weerhou om hierdie sogenaamde bargains te koop, maar sy benadruk ook dat daar baie streng teen hierdie kopers opgetree sal word.
Sy vra inwoners om meer oplettend te wees waar en hoe hulle hul goedere wegbêre. "Sluit julle huise en maak die vensters toe, al gaan julle net vinnig winkel toe," het sy beklemtoon.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'