ALBERTINIA NUUS - Die spesiale aksie wat lede van korrektiewe dienste se paroolkantoor in samewerking met die plaaslike polisie en beurtwaglede verlede Woensdag uitgevoer het, was uiters suksesvol.
Só vertel Liezel Cooper, 'n paroolbeampte van Riversdal, ná hul verrassingsbesoek aan Albertinia en Stilbaai.
Slegs ses van die 50 paroolgangers wat hulle besoek het, het nie hul paroolvoorwaardes nagekom nie.
"Ons was oortuig daarvan meer paroolgangers sou hul voorwaardes verbreek en nie by hul huisadresse opgespoor kon word nie. Nie net is ons verras nie, maar dit wys ook duidelik iets werk met die stelsel."
Nege lede van korrektiewe dienste se paroolkantoor, ook uit Mosselbaai, en nege lede van die polisie, 'n privaat sekuriteitsmaatskappy en buurtwaglede het aan die spesiale aksie deelgeneem. Hulle het veral op seksoortreders en paroolgangers wat op 'n swartlys geplaas is ná verskeie vorige oortredings, gefokus.
Die groep wou meer paroolgangers verras het, maar hul besoek aan Riversdal is gekanselleer nadat 'n swaarvoertuig op die N2 omgeslaan en die pad versper het.
Cooper sê mense wat hul parool-voorwaardes verbreek, kry drie waar-skuwings: eers mondelings, dan skriftelik en laastens 'n finale waarskuwing. Dan word 'n lasbrief uitgereik.
"Paroolgangers weet hulle moet tuisbly by hul woonadresse wat hulle opgegee het. Hoewel hulle wel geleentheid kry om inkopies te gaan doen of 'n kliniek te besoek, moet hulle saans van 18:00 af by hul woonhuise wees.
"Die ses wat nou uitgevang is, sal 'n baie goeie verduideliking moet gee waarom hulle nie by die huis was nie."
Die Hessequa-paroolkantoor is juis in Riversdal gevestig om sake vir paroolgangers makliker te maak.
Aanvanklik is dié kantoor vanuit Mosselbaai bedryf, maar met 'n kantoor in Riversdal is dinge uit 'n logistieke oogpunt baie makliker.
Cooper verduidelik een van hul doelstellings is om om te sien na die veiligheid van die gemeenskap sowel as die van paroolgangers. "Ook hulle word soms aan gevare blootgestel.
"Ons grootste doel is om paroolgangers te help om hulle weer met behulp van programme en projekte terug te plaas in hul gemeenskappe. Daar is wel jou moeiliker gevangenes en ons moet die proses versigtig bestuur om te verhoed dat niemand uitrafel of die kluts kwytraak nie.
"Die suksesvolle herintegrasie van paroolgangers is vir ons 'n prioriteit. Ons strewe daarna om hul lewens ook te verbeter al vereis dit dat ons sielkundiges en maatskaplike werkers moet betrek in die proses. Ons by korrektiewe dienste buig regtig agteroor om die mense te akkommodeer en hulle aan die hand te vat en na 'n beter lewe te lei."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’