Volgens Pietie Uys, 'n bekommerde inwoner het hy Donder-dag, 29 November teen ongeveer 06:00 sy deur vir sy hond oopgemaak. Die hond het 20 minute later teruggekeer en teen sy deur geval.
Uys het uitgegaan toe hy dit hoor en dadelik besef dat daar iets fout is. Hy het onmiddelik na die veearts op Heidelberg gejaag, maar met sy aankoms op die dorp was die hond reeds dood.
Kaptein le Roux van die speurdiens op Heidelberg het bevestig dat hulle besig is met die ondersoek. "Ons het beslag gelê op vis wat in 'n leë erf gevind en waarop ons vermoed gif geplaas was. Monsters daarvan is na verskeie laboratoriums gestuur en ons wag nog vir die uitslag daarvan, wat ongelukkig 'n tydjie neem. In hierdie stadium kan ons glad nie sê watter soort gif gebruik is nie," het hy op navraag aan Suid-Kaap FORUM gesê.
Hy doen 'n beroep op mense om nie diere te vergiftig nie, want dis onmenslik en die skuldiges gaan met die volle sterkte van die wet te doen kry wanneer hulle vasgetrek word. "Die probleem met gif wat ingeneem of aangeraak word, is dat dit versprei en gevolglik 'n kettingreaksie tot gevolg het. Een dier kan vele ander se dood veroorsaak," waarsku hy. Hy vra ook dat mense wat nie meer 'n hond, kat of ander troeteldier wil hê nie, of ongemak het met die bure se diere die polisie-stasie sal kontak en hulle sal dit aanspreek en voorkomend optree.
Dit is nie net Witsand wat deurloop nie, maar daar was ook al 'n geval of wat op Heidelberg en selfs Albertinia aangemeld. 'n Ander onding wat volgens Le Roux kop uitgesteek het, is persone wat 'n sekere gifstof gebruik om tarentale te verlam, waarna hulle gevang en geslag word om te eet. Hy vra dat enige persoon wat inligting oor die vergiftigings kan verskaf, hom sal kontak by 028 722 1910. Inligting sal as streng vertroulik hanteer word.
'n Bekommerde inwoner van Witsand het gesê dat sy die nodige sleutelpersoneel van die Hessequa en Eden munisipa-liteite, die nasionale dierebeskermingsvereniging en die Witsand belastingbetalers oor die situasie ingelig het wat voortdurend slagoffers eis en sy voel dat daar definitiewe stappe geneem moet word om dit onder beheer te bring.

Dié katte is maar 'n paar van die troeteldiere wat op Witsand vergiftig is. Foto's: Lorraine Martin