Geen kerk kon tot nog daar inkom nie, maar met 'n watervoorsieningsprogram vanuit Hessequa aan die 2800 inwoners van Nairoto, het gesindhede baie verander. By die vorige besoek kon die pompinstallasie en 2km hoë druk plastiese pyp per bakkie en sleepwa vanaf Stilbaai opgeneem word, maar weens lae watervlakke geen water tot by die dorp gepomp word nie. Die opvolg besoek was ten doel om die projek te finaliseer en geestelike werk oor te gee aan plaaslike gelowiges.
WEER DIE LANG PAD
Op 10 April is die span weer met ds.Gouws se volgelaaide Nissan dubbelkajuitbakkie uit Stilbaai om die 4600km na Nairoto aan te pak. Vyf spanlede het aangemeld: Willie, Griet en Antonie Gouws, Riaan Moag en Francois Smit, en Rut Gouws het saamgery tot in Maputo.
Die langer roete oor Maputo is geneem om die Paasfeesverkeer in die Limpopo provinsie en Zimbabwe mis te loop. Op 'n stywe skedule waar min plek was vir moontlike foute of vertragings, het alles seepglad verloop en kon selfs die verskriklike paaie tussen die Beira korridor en Macuba (600km) hulle nie stop nie. Alhoewel die bakkie verbasend ekonomies geloop het vir 'n swaargelaaide petrol 4x4, het hoë brandstofpryse (R15,50 in Noord Mosambiek) regdeur hul fondse kwaai geknou.
Op Sondag, 15 April het hulle vir Kallie Calitz, van Riversdal, opgelaai by Pemba lughawe, met ander woorde ses insittendes en nog bagasie, wat die dakrak se vrag nog hoër laat klim het. Die laaste 70km is in die donker gery en het selfs met harde bestuur 2 ½ uur geneem. Met die aankoms op Nairoto, in diep donker het hulle ontdek hul vorige kampplek was toegegroei met byna 3m hoë gras. Hulle het hulle egter nie laat onderkry nie en teen 23:00 was die kamp opgeslaan en allerhande naggeluide laat hul welkom voel.
WATER IN NAIROTO:
Vroeg die volgende oggend (Maandag) het hulle die pomp en materiaal gaan oplaai waar hulle dit die vorige keer gestoor het. Hul bekommernis dat noodsaaklike parte en materiaal gesteel of weg kon wees, was onnodig; Alles is daar. Baie min mense kom loer in en later besef hulle die hele dorp is uit op hulle plasies.
Die vorige besoek se bekendes kom egter gou in as hulle hoor die span van Stilbaai is daar en twee sake word duidelik: die hele dorp het gedink hulle kom nie weer nie, (toe hulle langer as drie maande vat om terug te kom) en die pomp gaan nie water pomp nie, maar met harde werk om die pomp en pype te installeer en so vas te maak dat dit nie loskom na 'n rukkie se gebruik nie is hulle suksesvol.
Die span is baie bekwaam en Kallie is goud werd in sy vakgebied. Die put word weer skoongemaak en die ander pyp word met 'n span jong Nguni's gelê tot in die dorp. Shaka sou hierdie lot laat swaarkry het dink vertel Willie. Teen Woensdag is die water in die dorp, vinniger as wat hulle gereken het en dit loop teen byna 1200 liter per uur. Hulle is baie tevrede en die dorp, wel effe verleë, maar baie bly.
IN OPDRAG VAN JESUS
Ongeveer daardie tyd het die dorp se 'burgemeester', me. Ambassi volgens Willie op Nairoto aan en kan nie glo dat daar reeds water is nie. Donderdag word spandeer aan fyn regstellings, beveiliging van die sisteem en opleiding van plaaslike verantwoordelikes. 'n Groot volksvergadering word gereël, maar die massa daag nie op nie (uit op die plase). Daar is egter baie dankbaarheid by almal en die span van Stilbaai kan hulle verder kom help, ook met die skool' en 'sal altyd welkom wees'. Willie maak dit duidelik dat hierdie projek 'n opdrag van Issa/Jesus was en dat die volk HOM daarvoor moet dank. Heelwat mense stel belang om 'n pad met Jesus te begin stap en Willie bid vir die hele volk.
OP 'N DRAFSTAP TERUG
Donderdagmiddag drink hulle vir oulaas 'n koppie koffie op die brug teen die sonsondergang (Griet se ritueel), braai die aand saam en begin met die kamp se afbreek. Vrydagoggend moet hulle op die laatste 6:30 op pad wees. Kallie moet 12:00 op Pemba lughawe wees en die pad is sleg tot daar. Oppad stop hulle by Monte Puez, onder andere om met Kashimiro te praat, wat die evangelisasie moes oorneem en nooit opgedaag het nie. Hy verduidelik dat hy op pad was, maar sy suster sou gesterf het as hy nie daar was om na haar om te sien nie. Hy wil baie graag die kerkplanting behartig, maar Willie moet weer kom.
Op Monte Puez kom ook 'n sms deur dat Antonie Maandagoggend 7:00 in Pretoria moet wees vir die lugmag. Alle planne om na Ibo toe te gaan waai uit by die deur en hulle pak die 2800km tog aan na Pretoria via Zimbabwe. Hulle kry Kallie by sy vliegtuig, verloor kosbare ure by die bank vir geld ruil en kom laat in Nampula aan. Die mense van Newe Tribes Mission wat die inisiatief sou oorneem, is weg, duidelik wil Vader iemand anders gebruik. Hulle ry hard tot by Nchope en skryf 'n band af, maar Sondag ry hulle sonder probleme tot in Pretoria.
Maandag maak hulle 'n suspensie probleem reg op die Nissan, ontmoet 'n sendeling wat belangstel in die projek, koop 'n spaarband en gaan kuier by die Maree's op Potchefstroom. Teen Dinsdag, 24 April was hulle veilig terug op Stilbaai, 9316 km afgelê, R18 000+ se brandstof gekoop (pompe ingesluit), twee bande afgeskryf, twee boetes gekry en twee lede het malaria opgedoen.
KOSTE VAN DIE 2012 UITREIK: R32,500!
Missie suksesvol afgehandel: Priceless!! Rede: Baie mense het volgens Willie vir hulle gebid tydens die uitreik en kon hulle dit duidelik ervaar.
WAT NOU?
Die Nguni projek is nou redelik goed geplaas vir evangelisasie. Willie noem dat hulle graag 'n groot dankie wil gee aan almal wat by hierdie begin fase betrokke was- Muito Obrigado. "Veral aan Stilbaai se NG Gemeente 'n dank vir die manier waarop hul ingekoop het. Dit het besonders goed en vinnig gegaan en die deur oopgemaak vir kerkplanting, iets wat voorheen net nie kon gebeur nie". Die plan om die projek af te gee en veral plaaslike inisiatief te vestig kon volgens Willie egter nie mooi realiseer nie .
'n Finale besoek aan Nairoto saam met Kashimiro oor 'n tydperk van 10 tot 14 dae lyk na die uitweg, waarna die genoemde sendeling van Pretoria teen 2013 kan in beweeg om met leierskap ontwikkeling te begin. "Kom ons bid saam vir die verdere ontwikkeling van hierdie mooi inisiatief".

Die groep begin om die pomp op te stel by die oorgroeide put.

Groot manne, klein kajuit, Griet lê agterin in nog 'n kleiner spasie.