STILBAAI NUUS - Die NSRI het Sondagmiddag om 15:51 reageer op 'n noodoproep van Stilbaai polisie dat 'n persoon besig is om te verdrink in die Goukourivier naby die riviermond.
Volgens Stéfán Grové, bevelvoerder van die NSRI se Stasie 31 in Stilbaai, het reddingswemmers onmiddellik reageer, terwyl die NSRI boot te water gelaat is.
Op die toneel aangekom het hulle in samewerking met die polisie begin soek na die vermoedelik plaaslike man in sy vroeë vyftigs wat vermis geraak het toe hy blykbaar die rivier wou oorsteek.
Ooggetuies het gesien hoe hy uitgespoel word tot in die see, waar die NSRI hom toe gevind het, ongelukkig alreeds oorlede.
Die liggaam is oorhandig aan die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement se nooddiens en patologie afdeling.
Die oorledene se naam is nog nie bekendgemaak nie en die polisie het 'n ondersoek na die voorval begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’