HEIDELBERG NUUS - 'n Middeljarige motoris is Dinsdag 8 Oktober 'n swaar boete vir dronkbestuur opgelê.
Willie Mfundisi (51) is op 16 Maart vanjaar vasgetrek na sy bloedalkoholvlak 0,26 in plaas van die die toegelate vlak van 0,5 was.
Landdros Ludick Sass het hom 'n boete van R10 000 of 30 maande tronkstraf opgelê. Hy het 'n opgeskorte vonnis van R6 000 of 18 maande gekry op voorwaarde dat Mfundisi nie weer binne die volgende vier jaar vir dieselfde oortreding aangekla word nie.
Volgens die staat het hy reeds twee soortgelyke oortredings in 1988 en 2005 begaan.
Tydens pleitverduideliking het Mfundisi vroeër die hof versoek om hom genadig te wees aangesien sy werk grootendeels van sy bestuurderslisensie afhanklik is. Hy het aangedui dat hy onmiddelik R2 000 en daarna R250 per maand kan betaal.
Sass het gesê hy het wel berou getoon, maar hom soos ''n stout seun gedra' en dat hy moet 'voel waar dit hom die seerste maak'. "Jy moet R2 000 onmiddellik betaal en die balans teen R500 per maand."
Sass het ook gesê as landdros is dit sy plig om ander padgebruikers te beskerm. Hy het benadruk dus 'n voorreg en nie 'n reg nie om 'n bestuurderslisensie te hê.
"Jy kan gelukkig wees dat die polisie jou afgetrek het voor jy dalk die oorsaak van groot skade aan iemand anders se besittings of persoon was."
Hy het hom ook grappendergewys aangeraai om liewer sy van Mfundisi (Xhosa vir predikant) gestand te doen eerder as om net 'nagmaal' te geniet.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'