RIVERSDAL NUUS - Een van die bekendste geneeshere op Riversdal, dr Vicky van Wyk (75) het besluit om na 'n tydperk van 51 jaar en vyf maande af te tree.
Dié gebore Riversdaller matrikuleer in 1962 aan Hoërskool Langenhoven, waar hy ook hoofseun was.
Reeds as kind "opereer" hy op speelgoed, teddiebere en selfs blomme en verklaar hy dat hy 'n dokter gaan word. Hy studeer aan die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch en voltooi sy praktiese opleiding by die Karl Bremerhospitaal op Bellville.
Hier ontmoet hy radiografis Wilna Jonker van Upington, sy toekomstige huweliksmaat en grootste ondersteuner.
Na die voltooiing van sy studies praktiseer hy in Windhoek vir vier jaar, en later op Riebeeck-Wes in die Swartland vir ses jaar.
In Desember 1978 verhuis die gesin na Riversdal en dien hy as mediese praktisyn die gemeenskap vir 41 jaar en vyf maande.
Hier beleef hy die vele aspekte van die mediese beroep, naamlik geboortes en sterftes, die oordra van goeie nuus, maar is ook dikwels teenwoordig by 'n pasiënt se sterfbed.
In 1980 word Van Wyk as munisipale raadslid verkies en dien hy vir 14 jaar die gemeenskap. In sy tydperk as raadslid en as burgemeester vanaf 1985, word die De Miststraatswembad en Takkieskloof-vakansieoord gebou. In samewerking met oudArbeiderspartylid van die parlement, mnr DWN Josephs word die Rivervillesportkompleks in 1988 ingewy en word die woonbuurte Môrestond en Aloeridge van voorafbetaalde elektriese meters voorsien en geïnstalleer. Die woonbuurte word ook van teerstrate en riolering voorsien.
In 2018 word hy deur lede van die Jack Simons ANC-tak vir 'n toekenning genomineer vir sy rol as mediese praktisyn en gemeenskapsleier. Dit word tydens 'n glansryke geleentheid in die burgersentrum aan hom oorhandig.
Van Wyk se werk was sy stokperdjie. Gepols oor die Covid-19-pandemie is hy van mening dat dit nog vir 'n redelike tydperk met ons sal wees, ten minste tot 'n teenmiddel daarvoor ontwikkel sal word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'