STILBAAI NUUS - NSRI Stasie 31 nooi almal na hul ope dag op Saterdag 21 Desember.
Die dag sal om 09:00 met 'n verwelkoming deur die stasiebevelvoerder George Sabbagha afskop. Daarna sal 'n demonstrasie in waterveiligheid gelewer word.
Dieselfde waterveiligheidsopleiding word deur die NSRI aan skole gebied.
Om 10:00 sal die stasie se twee reddingsvaartuie, Colorpress Rescuer, 'n 8,5 meter-rubberboot met twee 200 pk enjins, asook die 4,2 m Colorpress Too te water gelaat word vir 'n demonstrasie van hoëspoed-afspring van bemanning in die see. 'n 'Drenkeling' sal ook op hoë spoed en in moeilike omstandighede uit die water gelig word.
Om 11:20 sal gedemonstreer word hoe 'n pasiënt van die rotse af gered en met 'n drywende draagbaar na die reddingsboot geneem word. Daarna word die stasie vir die publiek oopgestel om 'n kykie agter die skerms te kry.
Dis 'n gulde geleentheid vir enigiemand wat belangstel om aan te sluit, om meer inligting oor die rol van vrywilligers te bekom.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'