Die klein plaasskool, 7km buite die dorp het hul 85ste bestaansjaar gevier. Vrydag, 15 Augustus is 'n geselligheid by die skool aangebied waartydens vorige leerkragte, oud-leerders, betrokkenes uit die gemeenskap en uitgenooide gaste teenwoordig was. Verskeie persone het staaltjies vanuit die verlede vertel.
Doreen Weber het op haar gesellige manier die gaste laat skaterlag oor haar stories in die tydperk toe sy onderwys gegee het by die skool.
Na afloop van die geselligheid is die gedenksteen van wyle Sylvia Horn, voormalige prinsipaal onthul deur haar broer, Boetie Horn. Sylvia is Januarie vanjaar oorlede.
Saterdagaand, 16 Augustus het die kroning van Mnr en Mej Kruisrivier plaasgevind. Rovenia Saayman is aangewys as Mej Kruisrivier en haar twee prinsesse is Veronique Francies en Laureniqua Francies.
Edgar Johnson is Mnr Kruisrivier en sy twee prinse is Matthew Saayman en Anthony Michaels. Mej Kruisrivier Jnr is Rozaan Marcus en Mnr Kruisrivier Jnr is Jordan de Lange.
Sondagoggend is daar 'n kerkdiens by die skool gehou wat goed deur die gemeenskap bygewoon is. Eerw Beukes en sy vrou, Shirley het al die pad vanaf Kaapstad gereis om die naweek se verrigtinge by te woon. Beukes was baie bly om na jare weer sy graad-leerkrag, juffrou Robertson te sien.
Agtergrond
Die skool is in 1929 deur eerw Martin Johnson van die St Andrews kerk gestig.
Op 18 Augustus 1930 is die steenlegging deur die destydse inspekteur van skole, SA Boersma waargeneem.
Die eerste prinsipaal van die skool was Thys Cronjé, en hy is opgevolg deur Layman, Raymond Steyn, Alec Taute, Martin du Preez, Hill, Sylvia Horn en tans is Alida Duminy die prinsipaal.

Eerw Beukes en sy gade, Shirley (heel links) staan saam met me L Robertson - oudste leerkrag (links) en die oudste leerder, me Stephanus (tweede van regs).

Tydens die onthulling van die gedenksteen van wyle Horn, staan Shirley en eerw Christopher Beukes, vader Stephens, mnr Hill en sy gade, Alida Duminy en rdl Emor Nel, burgemeester; Hessequa Munisipaliteit.
ARTIKEL: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
Klik hier vir meer foto's van die geleentheid.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'