HESSEQUA NUUS - Verbruikers sal meer vir algemene dienslewering moet opdok, aldus die munisipaliteit se mediumtermyn inkomste- en uitgaweraamwerkbegroting.
Volgens die munisipaliteit is alle prosesse gevolg en die begroting is op Woensdag 30 Mei ter tafel gelê.
"Alle insette en kommentare is tydens die samestelling van die voorgestelde begroting oorweeg," het die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles tydens sy begrotingstoespraak gesê. 'n Riglyn van 6% tariefaanpassings sal toegepas word.
Die watertekort in die Wes-Kaap is aangespreek in die begroting by wyse van 'n 12 % aanpassing van die watertariewe. Addisionele waterinfrastruktuur soos boorgate en onsoutingsaanlegte sal onderskeidelik in Stilbaai en Witsand opgerig word.
Die munisipaliteit is verantwoordelik vir 50% van hierdie koste en het 'n toekenning van die Wes-Kaapse plaaslike bestuur, droogtehulpfonds ontvang. Riddles noem dat geen stortinglugspasie tans beskikbaar is nie. Stortinglugspasie kan gedefinieer word as die volume van spasie op 'n stortingsterrein wat toegelaat word vir die afhandeling van munisipale vullis (municipal solid waste, MSW). Hierdie ruimte word aanvanklik deur die lug beset, wat uiteindelik verplaas sal word deur die beskikbare afval - vandaar die term 'stortinglugspasie'.
Bestaande dienspunte sal daarom nie uitgebrei word nie. Landelike gebiede en privaat ontwikkelings in landelike gebiede sal vanaf 1 Julie vanjaar vir vullisverwydering gehef word.
Hy moedig inwoners aan om deur voorbeeld te lei en te herwin. Hy sê herwinning is 'n noodsaaklikheid om die leeftyd van ons stortingsterreine te verleng.
Die deernis kategorie-A se boperk het toegeneem tot dubbel die van die nuwe staatspensioen en die inkomsteperk van kategorie-B gevalle het vermeerder vanaf R3 500 tot R3 800 per maand.
Munisipale deernissubsidie bly onveranderd en sal voortgaan om finansiële verligting aan kwalifiserende inwoners te bied.
Van links is Ferdie Berg, Johan Jacobs (munisipale bestuurder), Lien Viljoen (direkteur finansies), Ben Smit (raadslid), Grant Riddles, Johannes Hartnick (onderburgemeester) en Andrew Stroebel (speaker).
Hoogtepunte van die kapitaalbegroting is die herseël van paaie in Riversdal en Heidelberg (R8,2 miljoen), opgradering van sportfasiliteite in Slangrivier en Melkhoutfontein (R10 miljoen elk), rioolstelsel in Riversdal (R10 miljoen) en Gouritsmond (R3 miljoen), reservoir in Stilbaai (R4 miljoen) en opgradering van woonwaparke (R1 miljoen).
Voorgestelde tariefaanpassings vir 2018/19 is as volg: Eiendomsbelasting - residensieel, besigheid sowel as landelik 8%; regering 4,0% en leë erwe was 8% en styg na 24%.
Algemene dienslewering sluit die volgende in: Water styg van 8% na 12.%, elektrisiteit was 1,88% en nou 6,84% (gemiddeld), vullis 15% en riool 8%.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'