Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - En toe eis die Covid-19-pandemie nóg 'n slagoffer: Riversdal se ganse boerderygemeenskap.
En vir die dorpenaars wat opgewonde uitsien na die jaarlikse landbouskou is daar teleurstellende nuus, want weens die inperkende grendelreëls moes die skounaweek, wat vir 17 tot 21 Februarie vanjaar geskeduleer is, onvermydelik gekanselleer word.
Dit sou die 152ste skou op die dorp gewees het.
Hy wys uit die skou moes slegs een keer reg in die beginjare met 'n jaar uitgestel word weens 'n erge droogte. Dan was daar ook die keer toe perdesiekte veroorsaak het dat die skou sónder perde plaasgevind het.
Weens die koronavirus sou vanjaar se skou egter sónder mense moes plaasvind. Dus, onmoontlik.
"Die meeste reëlings was reeds in plek. Hoewel ons bewus is van die beperkings wat die virus meebring, kon ons die beplanning nie tot die laaste nippertjie los nie en het in goeie geloof voortgegaan om nóg 'n spogskou te reël. Ons moet egter aan wetgewing gehoorsaam wees en het ons 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap," sê die sakeman, boer en skoupresident, Pieter van Wyk (49).
Kyk 'n video hieronder:
"Die doelstelling van die Landbougenootskap is om deur samewerking met almal wat in die landbou en boerderyvertakkings (soos veeteelt en saaiboerdery en voortspruitende tuisnywerheidbedrywighede) belangstel, blootstelling te gee en om die landbou met positiewe ondersteuning te bevorder.
"Die boerderybedryf kry die geleentheid om gehalte-diere van verskillende rasse te besigtig en met mekaar te vergelyk. Boere en plaaswerkers kan nuwe landboumasjinerie besigtig. Ons bied opleidingskursusse vir ons werknemers en hul vroue aan. Daar's die gewilde jeugskou, massa-atletiekpret en, natuurlik, heerlike braaigeregte en ander genietinge. Die breër gemeenskap kuier lekker saam in 'n eg plattelandse omgewing."
Verlies tasbaar
Die omvang van die finansiële verliese weens die uitstel van die landbouskou is omvangryk. "Daardie geld word hoofsaaklik aangewend om die terrein en die geboue in stand te hou." Om so 'n skou aan te bied, is ons afhanklik van borge. Dit is ons grootste byeenkoms wat in die dorp aangebied word. Dit verg 'n groot verantwoordelikheid by die skoukomitee om 'n skou aan te bied wat die hele gemeenskap bymekaar bring. "Dit gee ook 'n baie groot finansiële inspuiting vir besighede in die dorp.
Die beplanning vir elke jaar se skou begin onmiddellik ná afloop van die vorige jaar se skou. Dan word nabetragting gehou, 'n nuwe uitvoerende komitee verkies en die onderhandelinge begin.
Die finansiële uitdagings is legio. Sowat 25 komiteelede en talle vrywilliges is by die beplanning betrokke.
"Die meeste van die deposito's en vooruitbepaalde bedrae is vereffen en die reëlings en voorwaardes met die borge, uitstallers, verskillende telersgenootskappe en alle belanghebbendes is nagekom, mét die ooreenkoms dat indien die skou nie sou plaasvind nie, die Landbougenootskap die geld kan terugkry," sê Pieter, wat sedert 1993 'n gemengde boerdery op die plaas Vetterivier bedryf.
Tyd en verskeie ander faktore sal bepaal of vanjaar se skou wel gaan plaasvind. "Daar is bloot nog té veel inperkingreëls. Riversdal se skou is maar een van die talle wat in die Hessequa-streek aangebied word. Dus sal 'n ander datum met omsigtigheid hanteer moet word.
"Ons moet die ander dorpe se skoue respekteer en ons moet ook die streek se landbou-aktiwiteite deur die jaar in gedagte hou.
"Uiteindelik sal wetgewing bepaal hoe volledig die aanbieding sal wees. Maar daar sal gewis 'n paar verrassings wees!"
Pieter van Wyk, skoupresident
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'