Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Groot opgewondenheid het onder kleuters in die Riversdal- en Heidelberg-distrik geheers toe Kersvader al op Vrydag 10 November by hulle besoek afgelê het.
Die tyd vir die Santa Shoebox-projek om boksies met geskenke uit te deel het aangebreek en in elke klas kon Kersliedere gehoor word wat uit volle bors gesing is. Dis asof die engel die boodskap bring van Jesus se vrede wat harte laat sing.
'n Toet-toet geluid en 'n snaakse bussie met 'n groot man met 'n wit baard daarop met sakke vol geskenke, het kleuters van oor tot oor laat glimlag.
Die name van die kinders is reeds vanaf 1 September op Santa Shoebox se webtuiste bekend gemaak en vrywilligers kon bokse spesiaal vir die kinders opmaak.
Volgens die koördineerder, Meghann Bouwer, is altesaam 178 bokse in die distrik ingesamel en drie plaaslike skole kon baat uit die projek vind.
Meghann Bouwer (links) en Lijanda Swart (heel regs) sit by kleuters van 'n kleuterskool op Riversdal.
Melchior Briers van M Briers Landboudienste het gesorg dat Kersvader op 'n trekker by Riversdal opdaag en Pierre Roode van Inspired het met 'n unieke 'Filipino taxi' by Heidelberg opgedaag.
Kyk 'n video:
Die Santa Shoebox-span bestaan uit Bouwer en Wikus Louwrens van Riversdal Toyota, asook Lijanda Swart. Bouwer is reeds vir die afgelope drie jaar as plaaslike koördineerder betrokke.
"Ek bars elke keer uit in trane, want die geskenke is presies wat hulle nodig het. Die Here weet wat hulle nodig het en daarom sien ek Sy hand in elke boks."
Die groepie kleuters op Heidelberg wag angstig dat Kersvader sy of haar geskenkie gee. Foto: Aletta Sutherland, korrespondent
Hierdie projek is al 10 jaar landwyd aktief. Die boksies bevat onder meer noodsaaklikhede, maar ook die eenvoudige dingetjies soos lekkergoed en speelgoed.
Volgens 'n persverklaring van die Santa Shoebox-projek, word dit as een van Suid-Afrika se gunsteling jaarlikse feesseisoen liefdadigheidsprojekte beskou.
Hoof- uitvoerende beampte, Irené Pieters, beskryf hoe ontsagwekkend die projek is, "...veral as jy in ag neem dat elkeen van ons ongeveer 50 aflaaipunte bestuur word deur vrywilligers wat vir niks meer vra as om die vreugdevolle glimlaggies op kinders se gesigte oor die Kerstyd te sien nie.
"Van die roerendste oomblikke is die dankbare uitdrukkings op die gesigte van die kinders se ouers, wat self nie in 'n posisie is om vir hul kinders Kersgeskenke te koop nie en so dankbaar is dat vreemdelinge bereid is om in te tree en dit wel te doen."
Lees 'n vorige artikel: Klein boksies maak 'n groot verskil
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'