STILBAAI NUUS - In 2022 is byna al wat 'n sypaadjie is in Stilbaai omgedolwe om optiese veselkabels te lê.
Stilbaai is 'n dorp waar inwoners baie waarde heg aan hul mooi sypaadjies wat hulle self in stand hou met gras en plante. Maar hulle het begrip daarvoor dat die optiese kabels noodsaaklik is alhoewel die lê daarvan ontwrigtend is.
Openserve, wat deur Telkom besit word, het in middel 2023 besluit om hul kabels in Stilbaai te lê en dis nou hier waar sommige inwoners warm onder die kraag raak.
Hessequa-munisipaliteit het 'n ooreenkoms aangegaan met die maatskappy wat in 2022 veselkabels gelê het om die pype waardeur die kabels loop ook deur ander toetreders gebruik mag word.
Maar die kontrakteur wat nou in Stilbaai doenig is, maak ook gebruik van bestaande telefoonpale om oorhoofse kabels te span waar dit beskikbaar is.
So lyk die oorhoofse kabels wat nou tussen telefoonpale gespan word.
Daar mag egter geen nuwe pale op munisipale eiendom geplant word nie en slegs indien 'n huiseienaar toestemming gee mag daar pale op privaat erwe geplant word.
Dit laat die vraag ontstaan wat moet die kontrakteur doen as hy by vakansiehuise pale moet opgerig. Die bekommerde inwoners sê dat hierdie klomp drade onooglik is en die estetiese waarde van die gebied 'n knou gee.
Daar was ook bekommernis dat dit kabeldiewe na Stilbaai sou lok, maar volgens die munisipaliteit het die kabels geen waarde nie en dit sal die diefstal van optiese veselkabels tot die absolute minimum beperk.
Die munisipaliteit verstaan die frustrasie en is simpatiek, maar ongelukkig het die kontrakteur die reg om van bestaande infrastruktuur gebruik te maak en hulle het dus die reg om kabels tussen bestaande telefoonpale te span.
Volgens van die inwoners is die bogrondse opsie goedkoper as ondergronds en is dit miskien die hoofrede en nie die feit dat ondergronds nie oral moontlik is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’