HEIDELBERG NUUS - 'n Jong man van hier is weer agter tralies na hy vir die tweede keer binne 'n maand vir inbraak en diefstal by verskeie sakepersele in hegtenis geneem is.
Die beskuldigde, Jayden Hendricks (18), is gearresteer toe hy by 'n plaaslike insleepdiens se perseel ingebreek het. Die saak word tans ondersoek.
Intussen is hy weer vir inbraak en diefstal van 'n Ford Ranger-bakkie wat aan die plaaslike SSK-tak behoort, vasgetrek na hy op die hoek van Eksteenstraat en die N2 by die ingang na die dorp teen 'n veiligheidsreling vasgery het. Hy is glo deur plaaslike inwoners aangekeer toe hy op die vlug geslaan het.
Hy het al by 'n vorige geleentheid enkele jare gelede by dieselfde perseel ingebreek en 'n insleepvoertuig gesteel waarmee hy 'n ongeluk op die N2 naby Gouritsbrug veroorsaak het. Hy het in 'n motor vasgery, waarna die insleepvoertuig die pad verlaat en in 'n veekraal beland het.
Die bakkie het skade van etlike duisende rande opgedoen en Hendricks het twee jaar in 'n verbeteringskool in George deurgebring.
Hy verskyn Dinsdag 20 Augustus in die hof hier op aanklag van inbraak en diefstal.
Die reling is beskadig toe die gesteelde voertuig daarteen gebots het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'