Van die inwoners wat al vir die afgelope 30 jaar daar woon, kla dat die water onderdeur hul huise sypel en vrees dat die grond eendag gaan meegee en hul huise op hul opfrommel. Volgens Cynthia Roberts, een van die ontevrede inwoners en voormalige prinsipaal van De Waalville Primêr, het sy al briewe aan die munisipaliteit gerig om te kla oor die toedrag van sake, 'maar daarvan kom dadels'.
Sy sê ook dat die toestand veral tydens en na groot reëns op sy ergste is. "Dis 'n ewige modderasie om die huis al het dit lankal ophou reën".
Nog 'n inwoner, Joan Noudt, kla ook vreeslik soos die water by haar deursypel. Noudt sê egter dat die munisipale werkers uitkom wanneer sy hulle bel om iets te doen om die water te keer, maar dat hulle net 'n pyp of twee kom neerlê om die water te probeer weglei straat toe. Dit, volgens Noudt en haar bure, help nie veel nie. De ontstoke bure is van mening dat die probleem alleenlik opgelos sal word deur 'n sugsloot agter hul erwe uit te bou.
Die ontevredenes noem dat een van die bure aan die oorkant van die straat, raadslid Leon Fourie, die Speaker, laat kom het om die probleem aan hom uit te wys, maar al die pogings om die water te keer help eenvoudig net nie.
Roberts noem dat die munisipaliteit baie haastig is om streng op te tree teen wanbetalers, maar as dit by dienslewering soos in dié geval kom, dan sloer hulle om die probleme behoorlik op te los. Laastens kla hulle dat hulle nie ordentlik kan tuinmaak nie, omdat die blomme en plante wat hulle wil plant, vrek omdat daar te veel water is.
Munisipale kommentaar
Susan Vosloo, media woordvoerder vir Hessequa het soos volg reageer. "Die sugwater probleme in Helmstraat is bekend aan die tegniese afdeling van die Hessequa munisipaliteit en sal aansoek gedoen word vir Munisipale Infrastruktuur Toekenning (MIG) befondsing". Vosloo noem dat die projek reeds opgeneem is in die drie jaar 'MIG-program' vir implementering in 2018/19 weens water- en rioolverwante projekte wat hoër prioriteit geniet oor die Meduim Termyn Uitgawe Raamwerk (MTEF) periode. "Die projek kan egter vroeër implementeer word indien daar besparings in die riool- en waterverwante projekte voorkom oor die kort MTEF periode. Daar sal intussen ondersoek gedoen word om die stormwater afsnysloot wat in die verlede daar was, te hervestig om plaatvloei en sugwaterprobleme te bekamp".
Hier kan gesien word hoe die water by die onderste twee trappe by die Roberts woning weke lank aanhoudend deursypel na swaar reëns.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'