SLANGRIVIER NUUS - Die 62-jarige Petrus Kleynhans, wat op 21 Junie in die wagkamer van die mobiele kliniek hier inmekaargesak en gesterf het, se dood hou nie verband met die versorging wat hy ontvang het nie.
Suid-Kaap Forum het in die uitgawe van 27 Junie 'Man sak in kliniek inmekaar en sterf' berig dat Kleynhans by die kliniek aangemeld het om sy tande te laat trek.
Hy is later in die wagkamer oorlede.
Nadia Ferreira, woordvoerder vir Wes-Kaap gesondheidsdepartement, het in 'n persverklaring gesê dat 'n artikel wat in Die Burger op 28 Junie 2019, 'Man (62) sterf glo na inspuiting' gepubliseer is, tot wydverspreide aanname deur die publiek gelei het dat die mediese sorg wat die oorledene ontvang het, tot sy dood bygedra het.
"Na aanleiding van die gevolgtrekking van die outopsie en die afhandeling van die ondersoek deur die polisie, wil die departement graag die gekorrigeerde feite bekend maak. Die obduksie-uitslae het bevestig dat die dood nie verband hou met die versorging wat hy ontvang het nie en dat die werklike besonderhede rondom die oorsaak van die dood deur die polisie met die familie bespreek is."
Ferreira het bygevoeg dat die departement en personeel daarna streef om kwaliteit mediese sorg te lewer. "Sulke aannames is nadelig vir die verhouding tussen gesondheidsverskaffer en die publiek."
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'