Update
SLANGRIVIER NUUS - 'n 62-Jarige inwoner van die dorp, Petrus Kleynhans, ook bekend as Klonkie Dot, wat Vrydag 21 Junie by die plaaslike kliniek aangemeld het om sy tande te laat trek, het in die wagkamer inmekaargesak en gesterf.
Volgens sy vrou Magdalena (Flek) is hy met sy swaer se bakkie tandarts toe.
Klaarblyklik is hy by die mobiele tandartskliniek, wat naby die kliniek geleë is, ingespuit. Daarna is hy na die wagkamer in die kliniek.
In daardie stadium het sy swaer laat weet hy het die bakkie nodig en Kleynhans het sy neef gevra om dit vir hom te neem. Die neef kon nie die bakkie aan die gang kry nie en Kleynhans is buitentoe om hom te gaan help. Terwyl hy by die bakkie gestaan het, het hy vir sy neef gesê hy voel 'snaaks', en die neef en nog 'n persoon het hom teruggehelp na die wagkamer. Dit was net voor 12:00 toe hy op die vloer inmekaargesak en en gesterf het. "Hy het volgens die tandarts op al die vrae oor sy gesondheid genoem dat hy nie allergies is of aan enige dreigende siekte ly nie," het sy vrou gesê. Sy noem egter dat hy sedert 2013 reeds drie hartaanvalle gehad het, maar dat hy gesond was toe hy by die huis weg is.
Kleynhans was jare lank by 'n bekende slaghuis op die dorp werksaam, maar het die afgelope ruk by 'n busvervoerdiens gewerk. Hy laat sy vrou agter.
Sy begrafnisdiens is Saterdag 29 Junie om 08:30 vanaf die huis in Malgasstraat en daarna om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese kerk, Slangrivier.
Amptelike terugvoering van die Wes-Kaapse regering gesondheid, Slangrivier:
"Ons innige simpatie aan familie en vriende in hierdie hartseer tyd. Aangesien 'n saak by die polisie aanhangig is, kan ons nie verdere kommentaar lewer nie. Die Wes-Kaapse departement van gesondheid gee sy volle samewerking en sal die nadoodse verslag aan die polisie bekend maak."
Lees 'n vorige artikel hier: Man sterf in wagkamer
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'