HESSEQUA NUUS - Meer as twee weke ná die verwoestende storm van 11 Mei sit verskeie landelike gebiede in Hessequa steeds sonder elektrisiteit, terwyl Eskom-spanne onverpoosd werk om die uitgebreide skade aan kraglyne en infrastruktuur te herstel.
Volgens 'n jongste opdatering wat deur Eskom aan Hessequa-munisipaliteit verskaf is, bly die herstel van kragtoevoer aan landelike inwoners in Albertinia, Jakkalsvlei en die Riversdal-omgewing die hoogste prioriteit.
Albertinia- en Jakkalsvlei-gebied
In die Albertinia- en Jakkals-vlei-gebied is verskeie pale en geleiers tydens die storm beskadig.
Eskom-spanne is tans besig met die vervanging van beskadigde pale en die herspan van geleiers in die geaffekteerde dele.
Die geraamde hersteltyd vir dié gebied is 3 Junie.
Riversdal-landelike gebied
In die Riversdal-landelike gebied en op plase in die rigting van Heidelberg is daar ook groot skade aan die netwerk aangemeld.
Verskeie pale en dele van geleiers moes herstel of vervang word nadat die storm groot verwoesting gesaai het.
Eskom-spanne bly op die toneel om herstelwerk voort te sit, met 'n geraamde hersteltyd van 5 Junie.
Hessequa-munisipaliteit het bevestig dat die munisipaliteit voortgaan om Eskom waar moontlik by te staan totdat alle geaffekteerde inwoners weer van krag voorsien is.
Inwoners wat reeds sedert 11 Mei sonder elektrisiteit is, word intussen bedank vir hul geduld, ondersteuning en begrip gedurende die uitgerekte herstelproses.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’