Update
HERBERTSDALE NUUS - Reën is altyd 'n seëning en hoewel dit soms met oorstromings en baie skade gepaardgaan, kan mens, dier óf plant nie daarsonder voortbestaan nie.
Pieter Muller van die plaas Peach Grove buite Herbertsdale, Hessequa-streek het dit onlangs ondervind toe die Gouritsrivier wat sy plaas kruis, oorstroom het as gevolg van bergwater.
Die groot kudde beeste loop aan die een kant van die rivier vir weiding, maar moet daagliks twee keer aan die anderkant kom na die melkery.
Die rivier is gewoonlik vlak en is dit nie 'n probleem nie, maar op Woensdag, 19 Januarie was dit 'n perd (of bees?) van 'n ander kleur toe die rivier afgekom het deur reën wat Maandag in die berg geval het.
Maar as 'n boer nie 'n plan het nie, maak hy een. Hy en 'n span werkers het op kano's sy beeste veilig aan die oorkant gekry. En 'n dip op 'n snikhete dag is vir geen bees te versmaai nie. Videos en foto's hiervan het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei, wat 'n wye verskeidenheid kommentare ontlok het; van lofbetuigings tot gekskeerdery.
"Die water was taamlik sterk, maar die koeie moet soggens en saans gemelk word en het ons nie juis 'n keuse gehad nie. Daar was net een manier en dis deur die rivier," het Muller gesê.
Volgens hom versuip 'n volwasse bees nie sommer nie, want hulle blaas hul op en swem deur. Dit is blykbaar net as 'n bees sou vasval dat dit gebeur. En gelukkig het die hele kudde ongedeerd aan die anderkant gekom.
Teen Vrydag was die rivier darem heelwat vlakker en was die kano's nie meer nodig nie.
"Ons is dankbaar vir die reën, want dit voed die grond en voorsien weiding. Ek sal dit weer doen as ek moet."
Vorige artikel: Oorstroomde rivier keer dié kudde nie
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Hessequa nuus'