Dit volg nadat die Wes-Kaap Onderwys Departement se Leerdersvervoerskema (LVS) steeds weier om hul agterstallige geld vir Roete 039 te betaal.
"Betaal wat julle ons skuld, anders sluit ons die hekke Woensdag (10 Oktober) sodat geen leerder, onderwyser of enige lid van die publiek of regering toegang tot die skool sal verkry nie," was die waarskuwing van die hoogs gefrustreerde John Februarie, voorsitter van De Waalville Primêr beheerliggaam en sy mede-beheerliggaamlede na maande se gesukkel om geld vir vervoerdienste deur die skool verskaf, van die Wes-Kaap Onderwys Departement (WKOD) te verkry.
Volgens Februarie het hulle Maandagmiddag, 8 Oktober na 'n dringende vergadering besluit genoeg is genoeg. Hy vertel dat die WKOD se Leerdersvervoerskema (LVS), onder leiding van mnr. Roy Africa versuim het om sedert April vanjaar die skool te betaal vir dienste gelewer op Roete 039. Hy het ook genoem dat na verskeie telefoniese oproepe en eposse met Africa, hulle nie anders kon as om die dienste teen die einde van Junie op te skort nie, omdat die skool nie by magte was om die geldelike las sonder betaling te dra nie.
Februarie noem verder dat hulle in besit is van skrywes van Africa dat hulle die skool sou betaal. Die nuutste skrywes, waarvan Suid-Kaap FORUM 'n afskrif het, is op 26 September deur Africa aan die skool ge-epos waarin hy belowe dat dié kwessie teen die einde van daardie week (28 September) opgelos sou wees. Die bedrag wat deur die WKOD aan hulle verskuldig is, beloop ongeveer R78 000.
"Hoe moet ons die skool bedryf as sulke bedrae nogal deur die WKOD geskuld word? Ons het mos klaar die dienste gelewer sodat die kinders in die skool kan wees," het hy gesê.
Die beheerliggaam is ook ongelukkig omdat die nuwe kontrakteur vir dié roete blykbaar stiptelik betaal word sedert hulle die roete bedryf. Dié omgekrapte voorsitter vertel verder dat hulle 'n dringende beroep op hul ouergemeenskap gedoen het om hul Woensdagoggend (10 Oktober) te ondersteun om die skool se hekke te sluit as die WKOD nie teen die vorige dag die skool betaal het nie.
"Ons wou nie graag tot dié stap oorgaan nie, omdat die leerders in grade 3, 6 en 9 daardie dag die WKOD Sistemetiese toetse moes aflê. Hulle het ons egter nie met 'n ander keuse gelaat nie," het Februarie ontsteld gesê.
Die assesseringspersoneel moes ook daar wag tot daar behoorlike uitsluitsel gekry kon word.
Intussen het mnr. John Lyners, adjunk-direkteurgeneraal: WKOD ingegryp en bevestig dat hulle die verskuldigde gelde sou inbetaal, wat wel gedoen is. Die inbetaling van R84 000 in hul rekening is deur die verloop van die oggend deur die bank bevestig.
Mnr. Paddy Attwell, WKOD-woordvoerder het teen druktyd nog nie vir kommentaar reageer nie. Die koerant was ook telefonies met hom in gesprek, maar hy het op 'n geskrewe navraaf aangedring wat toe per epos aan hom gestuur is.

Leerders en onderwysers staan voor die geslote hekke.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS