STILBAAI NUUS - 'n Korrespondent van die destydse South-Western Echo het Saterdag, 31 Desember 1892, geskryf: "Op die oomblik is daar 11 families wat afgekom het om hul Kersvakansie hier te kom deurbring. Jy kan jou voorstel hoe lewendig dit hier is en watter lekker, vrolike tye ons geniet."
Sou daardie selfde korrespondent op 31 Desember 2025 uit 'n diep slaap in die middel van Stilbaai wakker word, sou hy die skrik van sy lewe kry.
Daardie 11 families het gegroei tot 'n beraamde 60 000 siele, en die enigste ooreenkoms is dat dit steeds lewendig is en dat die besoekers nog altyd lekker, vrolike tye geniet.
Dieselfde korrespondent het ook gekla dat daar heeltemal te min jong mans was vir die groot aantal jong meisies.
Motors en vliegtuie het die ossewaens van toeka vervang, en in 1955 is die brug oor die Goukourivier voltooi. Skielik was hierdie pragtige kusdorpie binne bereik van die derduisende vakansiegangers wat jaarliks op Stilbaai toesak.
Die vakansie is nou verby en die vakansiegangers is in 'n dik stroom op pad terug huistoe, maar baie het reeds hul verblyf vir Desember bespreek.
Hoe bevoorreg is die inwoners nie om steeds elke oggend in hierdie klein paradys wakker te word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’