Update
HEIDELBERG NUUS - Na 47 jaar in 'n asbesgebou kan die skoolgemeenskap van De Waalville Primêr kwalik hulle blydskap verberg nadat dit amptelik bevestig is dat konstruksie van 'n nuwe skool vroeg volgende jaar sal begin.
Die Wes-Kaap onderwys departement (WKOD) het Dinsdag, 26 Oktober die personeel, voornemende boukontrakteurs en ander rolspelers oor hul planne vir hierdie state of the art-skool ingelig wat die "plankieskool", soos inwoners dit genoem het, uiteindelik gaan vervang.
Volgens Hayley Ittmann, WKOD-programbestuurder vir infrastruktuurdienslewering, beloop die beplande koste nagenoeg R60 000 000. Dit sal voorsiening maak vir sowat 1 240 leerders, wat 120 graad R-leerders insluit om in 'n omgewingsvriendelike perseel onderrig te ontvang.
"Die konstruksietydperk behoort in ongeveer 19 maande voltooi te word," het hy gesê. Met voltooiing van die projek sal daar ook sportvelde vir rugby, sokker en netbalbane wees.
Die kontrakteur is 'n firma van Somerset-Wes, wat voorsiening sal maak om ten minste 30% plaaslike kontrakteurs in diens te neem.
Tydens die inligtingsessie het verskeie aanwesiges hulle blydskap en tevredenheid uitgespreek dat daar uiteindelik 'n ordentlike skool opgerig gaan word.
Annelene Hartnick, voormalige wyksraadslid wat self ook by die skool werksaam was, was duidelik in haar skik met die voorstelling aan hulle van die nuwe skool. Volgens Hartnick is die kwessie van die skool al jare vir haar 'n kopseer, omdat die struktuur groot risikos vir opvoeders en leerders inhou.
Die prinsipaal, Ralph Jacobs het sy dank en waardering aan die WKOD-beamptes uitgespreek omdat die droom uiteindelik 'n werklikheid gaan word. Na die verrigtinge het die kontrakteur met van die subkontrakteurs ontmoet om hulle oor die toekomsplanne in te lig.
Die 'plankieskool', De Waalville Primêr.
VORIGE ARTIKEL: WKOD onthul planne vir skool
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'