RIVERSDAL NUUS - Solidariteit Helpende Hand se welsynswinkel in Riversdal, wat onder die vaandel van Ons Winkel handel dryf, spog nou met 'n splinternuwe baadjie en eienaar.
Die nuwe winkel is op Vrydag, 10 Julie amptelik geopen en Anna-Marie Hughes is die nuwe eienaar. Die Riversdal-tak vorm deel van meer as 65 soortgelyke skenkingswinkels landwyd. Die winkel is geleë in Hoofweg en spog saam met 'n nuwe uitleg, ook met Helpende Hand se nuwe korporatiewe identiteit.
"Ons sien daarna uit om 'n verskil in die gemeenskap te maak en verwelkom alle inwoners met ope arms," sê Hughes.
Enigiets kan by die winkel afgegee word. Dit sluit onder meer in klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan.
Carla Viljoen (maatskaplike werker Helpende Hand), Alisha de Lange (Wes-Kaap streekorganiseerder), Anna-Marie Hughes, Marlise Labuschagné (assistent-streeksorganiseerder Wes-Kaap) en Alet Robbeson (hoof van Ons Winkels).
Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Die studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie. Die opbrengste word ook vir verskeie ander projekte van Helpende Hand aangewend wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.
"Saam en in 'n japtrap kan ons almal 'n groot verskil in die gemeenskap maak. Stap bloot net by die winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige huisware ontslae te raak en te weet dit gaan reg aangewend word om 'n verskil te maak," sê Hughes.
Vir meer inligting of om 'n skenking te maak, bel haar by 083 704 9917.
Anna-Marie Hughes knip die lint tydens die opening van die winkel.
'Ons bring jou di enuutste Riversdal, Hessequa nuus'