RIVERSDAL NUUS - Oktober, die mooiste mooiste maand volgens die digter C Louis Leipoldt en Greenfingers se tuinboulede moes saamstem dat hierdie uitstappie op Woensdag 11 Oktober na Swellendam een van die mooiste ervarings nog was.
Nie net is hul beloon met 'n pragtige sonskyndag nie, maar die tuine was getooi in malse kleur en prag.
Hul eerste besoekpunt was Rooiklip-kwekery wat in aalwyne, vetplante, clivias en broodbome spesialiseer.
Hannes het entoesiasties vertel waarom hulle as 'n spesialiskwekery bekendstaan. Hulle eksperimenteer en kweek self hul plante met sade.
Die statige Aloe King Rex, 'n vermenging tussen 'n aloe en kokerboom was die middelpunt in die Chelsea-blommeskou wat vanjaar in Londen plaasgevind het.
Daarna 'n besoek aan die historiese plaasopstal, Klipperivier waar Hanneke Dippenaar se plaastuin almal se asems weggeslaan het.
Lede is gul ontvang met tee en watertand eetgoed op pragtig gedekte tafels met kleurvolle blomme, wat bygedra het tot 'n vrolike lentegevoel.
Die lede van Greenfingers wat Swellendam gaan verken het.
Die besoek aan Margo Badenhorst se groentetuin het gewys hoe 'n jong boervrou van 'n uitvoer-naartjieboer inisiatief geneem en haar eie groenteboerdery begin het.
Middagete by Rotary Park-aftreeoord met die pragtige berguitsig was 'n welkome ruskansie na die vol oggendprogram.
'n Besoek aan die dorpstuin van Nan Steyn, skrywer van 'n groeigids vir al vier seisoene het gevolg. 'n Pragtige verskeidenheid rose, afgewissel met kleurvolle blomme en plante het almal in vervoering gehad.
Laaste, maar nie die minste nie, 'n besoek aan Buffeljags-kwekery en daarna het hul huiswaarts gekeer.
Lees 'n vorige artikel: Voorsmakie van die mooiste maand
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'