RIVERSDAL NUUS - Die Evangeliese Lutherse Kerk neem Saterdag 30 Junie finaal afskeid van pastoor Clifford Aubrey Koopman Kawie (83) van Riversdal.
Kawie het op 26 Januarie 1958 per trein na Natal vertrek om as predikant opgelei te word. Hy is op Sondag 27 Mei 1962 op Riversdal, saam met wyle Andrew Fortuin (later biskop van die Kaap-Oranje Bisdom in Kimberley) en Siegfried Abrahamse van Laingsburg, tans woonagtig in Johannesburg ingeseën. Die inseëning van die driemanskap word deur biskop Adelbert Brunke behartig wat op Riversdal in die ou pastorie in Langstraat woonagtig was.
Kawie tree in die huwelik met Hettie Josephs, 'n nooi van Riversdal. Uit die huwelik word twee dogters gebore, Yvonne en Serena. Sy vrou sterf op 21 Julie 1986.
Hy tree weer in die huwelik op 12 Desember 1987 met Joan Beukes, oudonderwyser en inwoner van Riversdal.
Die plaaslike Lutherse Kerk ondervind in 2000 'n skeuring in die gemeente. Na gesprekvoering tussen Kawie en wyle Fortuin, word hy ingeseën as leraar van die gemeente in Februarie 2000.
Hier doen hy tuisbesoeke, behartig kranke-nagmaal en tree op as liefdevolle herder van sy kudde. Hy bedank uit die gemeente in 2003.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 30 Junie uit die Evangeliese Lutherse Kerk, Belgravia Athlone om 09:00 plaas. Die ter aarde bestelling vind plaas by die Maitland-begraafplaas.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'