RIVERSDAL NUUS - Die uitgebreide tenderproses om die vloer en mure van die Heidelberg- en De Mist-swembaddens in Riversdal met marmer te bedek (marbelite) en die fasiliteite op te gradeer, is afgehandel.
Volgens Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa-munisipaliteit is 'n suksesvolle tenderaar, Inyameko-konstruksie, aangestel. Willem Swanepoel van Sunshine Pools is 'n spesialis op dié gebied en sal as subkontrakteur vir Inyameko-konstruksie optree.
Die marbelite van 'n swembad verg warm weersomstandighede en dit moet in een dag voltooi word, gevolg deur 'n dag van afronding. Die voorbereiding vir die proses is nou feitlik voltooi.
'n Kundige span van Johannesburg sal na verwagting en onderhewig aan weersomstandighede, die De Mist-swembad voor of op 15 November afhandel. Heidelberg-swembad sal die week daarna volg.
Takkieskloof-swembad op Riversdal is wel oop vir die publiek. Die oord, met insluiting van die swembad, word vir 'n periode van 30 jaar deur 'n privaat firma, Wie-Hanmar Trust bekend as Dibiki, by die raad gehuur.
Die munisipaliteit bedank die inwoners van Riversdal en Heidelberg vir hul geduld.
Lees vorige berig: Gewilde swembad gou oop
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'