Update
STILBAAI NUUS - Antoinette Olivier, vir dekades reeds 'n Stilbaaier, beskryf die onlangse onrus in KwaZulu-Natal uit eerstehandse ervaring.
Na haar man, Fanie se terugkeer uit Pole pendel hulle tussen Pennington, KwaZulu-Natal waar hy 'n huis het en haar huis in Stilbaai. Beide is in hul sewentigs.
Veiligheid
“In hierdie stadium het almal ‘n visuele voorsmaak gehad van wat tans aan die gang is in KZN en Gauteng. Maar omdat ek en Stefaans tans in KwaZulu-Natal bly, kan ek net rondom ons dorpie, Pennington, die prentjie inkleur.
Familie en vriende wil weet of ons veilig is en ek antwoord graag “Ja, op die oomblik is ons veilig.”
Pennington het mense wat in nood kan saamstaan. Onse dorp het twee ingange – dit sluit nou toegang van die strand uit, maar dis ’n ander storie. Manne het met hulle bakkies so parkeer dat niemand sommer in of uit die dorp kan ry nie.
Pennington is ‘n pragtige, ou stranddorp. Bestaan basies uit twee dele, een aan die bokant en die een aan die onderkant, die see se kant van die ou nasionale pad, deesdae die R102.
Ek stap graag. Maar nie alleen nie! Hier is redelik baie kriminele elemente. Ek meen inbrake, motordiefstalle en al daai goeters, maar ons het ’n baie goeie buurtwag en saam met die private sekuriteitsfirmas hou hulle ons veilig.
Magtelose vrees
Faan se huis is agter slot en grendel en diefwering en alarms soos alle goeie burgers maar hulle eiendomme beskerm. In hierdie straat waar ons bly het elke tweede huis ’n hond. Ek meen ’n HOND. Party kyk oor die heinings en blaf jou hare deurmekaar! Vir my vreesaanjaend.
Maar Pennington behandel ons goed. Faan is besig om die buitegbou te verander na nog ’n woonstel. Dis nou om te verhuur sodat hier darem voete op die grond sal wees vir die ses maande wat ons weer in Stilbaai is.
Maar toe hierdie verskrikking rondom Durban gebeur (net ’n uur van ons af), het algehele en volslae magteloosheid en vrees mens gepak. Die N2 is gesluit. Paaie versper. Winkels gesluit. Geen brandstof nie.
Gewoonlik hou ons voedsel vir ’n week aan. Ek koop graag vars groente en vrugte by party winkels en vleis genoeg vir die week by ’n ander. So leef ons nog altyd. En ewe skielik is die winkels toe, sommer in die middel van my beplanning rondom koskoop.
Min voorraad
Ons het net ’n OK-tjie hier op die dorp. Met ’n spoed soontoe. Ure, so voel dit, in die tou gaan staan. Elke dan en wan kom die eienaar se vrou uit om te sê die brood is op. Dan kom vertel sy al die groente en eiers is op. Dan weer daar is nie meer babakos nie. En elke koper kan net 1kg maalvleis kry. Toe ek uiteindelik in die winkel staan met my mandjie voor die kaal gekoopte rakke, slaan my verstand onderstebo. Ek koop 3 pakke tjokliks. Pak toiletpapier. My regmatige 1kg maalvleis.
Nadat ek die winkel omtrent ses keer rak op en rak af geloop het, is ek daar uit. Mismoedig met my blikkie mossels, blikkie oesters, pastasouse, toiletpapier en vleis. Fanie ry solank na Mr Pillay se winkel in ’n dorpie ’n ent verder en hy koop die varste groene en paar vrugte, ook in ’n tou. Toe hy uiteindelik by die kassier aankom, sê die assistent hulle vat net kontant... O, Moses.
Gister laat weet die buurtwag op hulle WhatsApp dat Checkers in Scottburg vir ‘n paar uur gaan oopmaak. Ek vlieg uit die bed en in my gister se klere, kop gekam en gemasker ry ons. By die twee vulstasies langs die pad staan die motors ingetrek, want die riemtelegramme laat weet die brandstof is op. Fanie is skepties: sy glas is altyd halfpad vol, myne halfpad leeg. My wynglas is in ieder geval al twee weke heeltemal leeg...
(En intussen sien ons ook hoe Covid-19 se entrepeneurs woeker as twee nuwe begrafnisondernemers se langasafstandbakkies ons verbysteek, Rian Cruywagen, hier is vir jou ‘n ekstratjie huppeltjie na die stap).
Aangekom in Scottburgh parkeer ons en sit af winkel toe. Daar staan mense in rye en die toue kruis die parkeergebied agter Checkers in sewe soorte geslangde rye. As ’n ’n mens nou so drie z’e kon uitrek en aanmekaar sit, het dit omtrent so gelyk. Toe maak ek ’n plan. Daar staan drie manne op die stoep wat die toegang beheer. Ek loop na die een jongman toe en spin hom my storie, van hoe oud ek is en dat ek ’n hart het en hy laat my op ’n stoel sit en knipoog vir my. Toe die volgende 20 moet in, toe sluip hy my in en daar gaan ek. Die man met die megafoon skree weer vir die toehoorders: hulle vat net kaarte, jy koop net 20 items en jy het 5 minute tyd om dit te doen.
(En my hart trek saam oor die baie vrouens wat moeilik hierheen gekom het en nooit in hulle lewens ‘n kaart van enige aard sal hê om te speel nie).
Die oorweldiging om skielik in ‘n volgelaaide winkel toegelaat te word, is onbeskryflik! Eers hardloop ek vir ’n ’n pak 30 toiletpapier. Toe dink ek aan meel - kan brood en beskuit bak. Toe hardloop ek vir karringmelk, maar dis uitverkoop; daar is net Amazi oor en ek vat die twee literboks. Op pad na die kaas gryp ek ’n pakkie piesangs en ’n pak met vyf avo’s. Toe onthou ek van pasta wat min is en ek hol daarvoor en pak ‘n paar pakke in. Toe skree die man oor die megafoon ons moet stop en na die betaalpunte gaan. Op pad soontoe moet ek by die vleistoonbank verby en raai, daar is net ’n hengse groot pak maalvleis, wat ek natuurlik vat. Met nog so een en ander op my pad ontdek ek dat ek 18 items in my trollie het. Om vir soveel ure in ’n tou te moes wag, vlieg ek om na die bakkery en koop vir ons twee hoenderpasteitjies.
Fanie het met die aankomslag reeds vermoed daar wag ’n lang wag en hy sit af na die klein Pick & Pay, laer af in die dorp. Hy bel my om te sê hy kan net 10 items koop en wat stel ek voor? Ek sê toe hy moet maar koop wat hy goed dink.
Tuis dra ons onse goedjies in. Faan het ook 30 toiletrolle gekoop, ’n pak boksmelk en ’n sakkie vars melk. Groot pak suiker, broodrolletjies, nog pasta en ’n sak gevriesde groente.
’n Bedryfsekonoom sou ’n aardige studie kon maak van die kooppatrone wat ons opgemerk het. Die meeste swart kopers koop dit wat kan hou en wat gaan werk: 10kg rys, 10kg mieliemeel, 10kg suiker, 10kg koekmeel, 10kg gevriesde hoenderstukke, tee, kitskoffie, ’n sak aartappels en ’n sak uie, ’n groot pak rakmelk, toiletpapier en dosyne eiers.
Steeds dankbaar
Ek warm onse hoenderpasteitjies op en ons gaan sit flou van die honger om hierdie pastei, wat dalk nog voor die rumoer gebak is, op die stoep in die son te eet. Skielik lag Faan en sê dat as daar fout kom met die pasteie ons darem 60 rolle toiletpapier tussen ons het.
Dankbaar dat ons vanoggend weer gesond wakker geword het. Dankbaar dat ons altwee die inentings gehad het. Dankbaar dat die pasteie niks gemaak het nie. Dankbaar vir kos in die huis. En ’n yskas. Rustigheid so ver ons kan sien en hoor, behalwe op die TV-skerm waar die ellende voortduur, amper op ons voordeur.
Dankbaar, dus, vir die vrywilligers wat die dorp toe hou. Maar dankbaarste nog dat ons mekaar het.
Vorige artikel: Dankbaar ten spyte van onrus
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'