STILBAAI NUUS - 'n Geliefde Stilbaaier het op Donderdag, 28 Mei sy stryd teen kanker verloor. Chris Heyns is op 82-jarige ouderdom in die Carewell-privaathospitaal op die dorp oorlede.
Sy vrou Ina sê die personeel by George-hospitaal se onkologie-afdeling het altyd na hom as 'n wonderwerk verwys: "Hy het ses jaar met kleinselkanker geleef. Gewoonlik kom dié soort kanker vinnig en aggressief na behandeling terug en pasiënte sterf kort daarna."
Heyns is op die plaas Pluimboshoek in die Sutherland omgewing gebore en het in Calvinia skoolgegaan. Ina vertel hoe hy skool toe gestap het voor hy 'n fiets gekry het: "Sy hond Kaptein het hom altyd halfpad ontmoet wanneer hy huistoe gekom het."
Na skool het hy by die poskantoor se tegniese afdeling in Caledon begin werk. In dié tyd is hy en sy eerste vrou, Santie, getroud en hulle het twee dogters gehad. Hy is later tot hoof van die tegniese afdeling in De Doorns bevorder.
'n Paar jaar later het hy besluit om van beroepsrigting te verander en het as versekeringskonsultant by Ou Mutual aangesluit, terwyl hy na-ure diens in Groep 40 van die weermag se militêre inligtingsafdeling diens gedoen het. Die verbintenis met die weermag het later voltyds geword en toe hy en Ina in 1986 getroud is, het hy trots in sy uniform gepryk.
Sedert die egpaar in 1995 Stilbaai toe getrek het, het Heyns in die kerk en koor diep spore getrap en met sy sagmoedigheid en humorsin in vele harte ingekruip. Hy was baie handig met gereedskap en Ina vertel sy werkswinkel se deur het altyd oopgestaan. Sy het gereeld vriendinne wat hande in die hare oor 'n gebreekte toestel was, na haar man toe gestuur met die woorde: "Hy sal vir jou 'n nuwe part maak, maar moenie sê ek het jou gestuur nie!"
Benewens sy verhouding met God en musiek, was jag, visvang en die natuur in die algemeen ook baie na aan sy hart.
Hy is op Woensdag, 3 Junie vanuit die Stilbaai NG-Kerk begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'